Central SA
Clarens-kunstefees spog vanjaar ook met natuuruitstappies─── 15:16 Wed, 22 Apr 2026
Die vyfde Clarens-kunstefees die komende langnaweek op dié Oos-Vrystaatse dorpie bied van uitstallings en werksessies tot letterkunde, openbare gesprekke en natuuruitstappies.
Een van die hoogtepunte is ’n groot uitstalling van beeldhouer Anton Smit in die NG kerk se pastorietuin. Die kunstenaar het een van sy werke geskenk vir ’n veiling ter ondersteuning van die nuwe Art Start Clarens-inisiatief vir jong talent in die dorp.
’n Nuwe toevoeging tot die program is ’n begeleide ervaring van die skatte van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park saam met kenners soos dr. Gideon Groenewald.
Vir die tweede jaar word boeke by die program ingesluit ná die uitstekende reaksie verlede jaar, sê Michele Magwood, die fees se letterkundige direkteur.

Keramiekwerk kry vanjaar weer ’n spesiale ruimte op die fees. Foto: OFM Nuus
Benewens ’n prikkelende skrywersprogram, waarvan Antjie Krog en Ruda Landman deel is (hul gesprek is reeds volbespreek), word ’n groot verskeidenheid visuele kunste, uitvoerende kunste en musiekoptredes in die aande aangebied.
“Daar is straatkuns en keramiek, met ’n afsonderlike keramiekuitstalling van topkeramiekkunstenaars van dwarsoor die land.”
Die fees bied ook ’n kinderhoek, waar die kleingoed betrek word deur stories, karakters en ’n poppekas, wat ’n liefde vir lees en stories kweek terwyl ouers met gemoedsrus kan rondbeweeg en die fees geniet.
Magwood vertel ’n gesprek is verlede jaar gevoer om maniere te vind om die fees waarlik uniek te maak. “Ons besef: wel, ons het dinosourusse. Niemand anders het dinosourusse nie. Ons het fossiele.”
Die gevolg is dat vroeë oggendstaptogte en -gesprekke toegevoeg word onder leiding van plaaslike kundiges soos Groenewald, ’n paleontoloog, geoloog en dinosauruskenner. “Dr. Groenewald is absoluut fassinerend. Hy praat in miljoene jare en laat dit klink asof dit net gister gebeur het. Jy kan eerlikwaar die hele dag na hom luister.”
Besoekers se sintuie sal weer gestreel word deur die skoonheid van die omgewing, soos die massiewe sandsteenheuwels in die omgewing, en spesifiek in die nasionale park. “Die herfs in Clarens is besonders mooi met die populiere wat goud verkleur. Hopelik is daar nog kosmos langs die paaie. Die blare en die landskap is baie mooi hierdie tyd van die jaar.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

