On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Jagersfontein-ramp: Saak na hoër hof oorgeplaas

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:49 Wed, 22 Apr 2026

Jagersfontein-ramp: Saak na hoër hof oorgeplaas | News Article
Die beskludigdes. Foto: Charne van der Merwe

Die hofsaak teen vyf mans en verskeie maatskappye ná die Jagersfontein-slikdamramp is vir 4 Augustus na ’n hoër hof oorgeplaas.

Die Jagersfontein-distrikshof was Woensdag (22/04) weer stampvol van inwoners en slagoffers van die ramp, wat die Vrystaatse dorp in September 2022 getref het. Die saak sal nou in die hooggeregshof in Bloemfontein voortgaan, waar die eerste verskyning na verwagting ’n voorverhoorkonferensie sal wees.

Die beskuldigdes is Marius de Villiers (62), Petrus Johannes Combrink (60), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Gert Abraham Coetzee (34) en Jan Homes Viljoen (45), saam met Jagersfontein Developments en verskeie verwante maatskappye.

Hulle staan tereg op 13 aanklagte, insluitend drie van moord, sowel as omgewingsbesoedeling en oortredings van damveiligheidsregulasies kragtens die Strafregwysigingswet. Die mans het vir die eerste keer byna vier jaar ná die voorval, nadat hulle gedagvaar is, in die hof verskyn. Landdros Phumeza Mcilongo het die beskuldigdes op waarskuwing vrygelaat.

Die hof was vol inwoners en slagoffers. Foto: Charne van der Merwe

Een van die inwoners, Papiki Tsoali, ook ’n slagoffer van die ramp, sê sy huis is vernietig. “Ons is vandag hier omdat ons hoop dat geregtigheid sal geskied.” Hy voel daar was onreg in wat gebeur het.

Die slikdamwal het in September 2022 ineengestort, wat wydverspreide verwoesting in die nedersettings Charlesville en Itumeleng veroorsaak het. Ongeveer 186 inwoners is dakloos gelaat, terwyl nabygeleë landbougrond uitgebreide skade gely het.

Volgens die Bench-Marks-stigting het een boer byna 90% van sy skape verloor.

Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu is tydens die ramp dood. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie. Lykskouingsverslae het aangedui dat Williams en Moseu albei tekens getoon het wat ooreenstem met verdrinking.

Ander aanklagte hou verband met:

• beduidende omgewingsbesoedeling;

• die versuim om aan watergebruiklisensievoorwaardes te voldoen;

• die verskaffing van valse of onvolledige inligting;

• die belemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie (DWS) om hul pligte uit te voer;

• die versuim om DWS-riglyne na te kom;

• die versuim om ’n dam met veiligheidsrisiko’s te registreer;

• ongemagtigde veranderinge aan ’n dam met veiligheidsrisiko’s;

• die versuim om ’n professionele span vir damontwerp aan te stel;

• die versuim om aan kategorie III-dammonitering en -verslagdoening te voldoen;

• die versuim om aan kategorie III-damveiligheidsvereistes te voldoen;

• die oortreding van art. 9 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, Wet 85 van 1993; en

• kwaadwillige saakbeskadiging (121 aanklagte).

Die beskuldigdes het in November 2011 begin met die herverwerking van ou mynafval in die Kopanong-munisipaliteit, ’n verwerkingsaanleg gebou en ’n afvaldam uitgebrei tot ’n slikdam met bykomende westelike (2010) en oostelike (2015) gedeeltes wat tussen 2017 en 2018 bygevoeg is. Die oostelike gedeelte het opwaartse vulling gebruik om fyn slik te stoor.

Teen 2015 het die dam 50 000 m³ oorskry, wat dit as ’n hoërisiko- Kategorie III-dam onder die Nasionale Waterwet geklassifiseer het, maar dit is nooit soos vereis geregistreer nie. ’n Watergebruikslisensie is in Januarie 2018 uitgereik.

Die slik het in 2022 deur Jagersfontein gespoel. Foto verskaf

Die staat beweer die beskuldigdes het misleidende of onvolledige stabiliteitsdata (2018–2022) ingedien, kritieke data (2013–2022) weerhou, die dam sonder goedkeuring uitgebrei (2017–2022), en afvalbeperkings drievoudig oorskry.

Moniteringsverslae ná 2017 het veiligheidsassesserings en behoorlike sertifisering ontbreek, wat verskeie artikels van die Wet oortree het.

Op 11 September 2022 het die dam se suidelike oewer ineengestort, wat 5,1 miljoen m³ slik en water losgelaat het. Die fout het bo begin en het insakking, oorloop en strukturele ineenstorting veroorsaak weens die verswakte fondasie se skuifsterkte.

Die beskuldigdes het die afgelope jaar meermale in die landdroshof verskyn waar die saak voorheen uitgestel is om die verdediging tyd te gun om die inhoud van die dossier te bestudeer.

Adv. Barry Roux tree op namens De Villiers, Combrink en Jagersfontein Development, Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners, en adv. Allen Simpson verskyn vir Viljoen. Adv. Mannie Witz verteenwoordig SRK Consulting (Suid-Afrika).

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.