Click on the warning image to view this post
Central SA
Raak rustig, maan unie motoriste ná padwoede in Emmarentia─── MORNÉ VAN ROOYEN 16:26 Wed, 22 Apr 2026
Suid-Afrikaanse motoriste word gemaan om kalm te bly en selfbeheersing op pad aan die dag te lê ná ’n opspraakwekkende padwoedevoorval in Johannesburg.
Die NVG het Dinsdag (21/4) besluit om vir eers nie die vermeende skieter te vervolg nie wat Sondag in die voorstad Emmarentia op ’n egpaar geskiet het. Die 58-jarige is in hegtenis geneem vir die skietery, waarin Faisal ul Rehman (48) gesterf en sy vrou, Tehseen, ernstig gewond is.
Nadat die mans mekaar te lyf gegaan het weens ’n botsinkie, het Tehseen na bewering die situasie vererger deur ’n vuurwapen uit te haal, ’n skoot te skiet en dit vir haar man aan te gee, wat ook ’n skoot in die 58-jarige se rigting geskiet het.
Woede het verwoestende gevolge
Die Motorbedryf se Personeelvereniging (Misa) vra bestuurders moenie konfrontasies aanstook nie, maar in sulke gevalle rustig bly. “Die voorval is ’n sterk herinnering aan die verwoestende gevolge wanneer humeure op ons paaie opvlam,” sê Martle Keyter, Misa se uitvoerende bedryfshoof.
Die NVG het opdrag gegee dat nog bewyse eers ingewin word om die saak te versterk, sê Magaboke Mohlatlole, Gautengse NVG-woordvoerder. “Sodra die ondersoek afgehandel is, kan ’n besluit oor moontlike vervolging geneem word.”
Die 58-jarige was veronderstel om Dinsdag te verskyn het in die Johannesburgse landdroshof. Sy vermeende slagoffers was onderweg met hul twee jong kinders in die motor.

’n Skermskoot van ’n video oor die voorval. Bron: Facebook
Keyter sê elke rit op pad hou risiko in. “ ’n Oomblik van woede kan lewens vir ewig verwoes. Die kleinhandelmotorbedryf, waarin Misa organiseer, sien daagliks die druk waarmee bestuurders te make het.”
Al is padwoede nie net ’n kwessie vir die strafregstelsel nie, maar ’n uitdaging vir die samelewing wat gesamentlike verantwoordelikheid vereis, sê Keyter, is “koel koppe” en geduld die enigste veilige reaksie op uitlokking.
“ ’n Geringe botsing of belediging behoort nooit in geweld te ontaard nie. Suid-Afrika kan nie bekostig om nog lewens aan padwoede af te staan nie.”
Misa vra die owerheid, burgerlike samelewing en vakbonde moet die veldtog opskerp om bewustheid te skep oor padveiligheid en emosionele selfbeheersing agter die stuur. Werkgewers in die motorbedryf moet ook projekte steun wat stresbeheer en verantwoordelike rygewoontes onder werkers ondersteun.
“Kom ons verbind ons daartoe om mekaar op ons paaie te beskerm, ter wille van ons gesin en ons kinders,” sê Keyter. “Geen kind behoort die trauma te verduur om ’n ouer op so ’n gewelddadige en voorkombare manier te verloor nie.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

