On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

‘Vergeet van sy titel, hy moet regverdig verhoor word’ – Klerksdorp-naasbestaandes

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:52 Tue, 28 Apr 2026

‘Vergeet van sy titel, hy moet regverdig verhoor word’ – Klerksdorp-naasbestaandes | News Article
Dié vier jong mense het in ’n ongeluk gesterf. Foto’s verskaf

Die saak teen die oudprokureur van Noordwes wat daarvan beskuldig word dat hy verantwoordelik was vir die dood van vier jong mense, is tot 13 Mei uitgestel vir blootlegging van die dossier.

Edward Letsie (34) het Woensdag (22/4) vir die eerste keer voorgekom in die streekhof in Klerksdorp. Die saak is tydens ’n vorige verskyning oorgeplaas vanaf die verkeershof.

Letsie staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag. Sy vervolging hou verband met die dood van Ruan Esterhuizen (21), sy meisie, Jackie Willis (21), sy beste vriend, Max Knott-Craig (22), en Jané Janse van Rensburg (19). Sy hofsaak het begin op 23 Januarie, byna 18 maande ná die voorval.

André van Aswegen, ’n prokureur wat die Janse van Rensburg-familie bystaan, sê die staat moet nou die verdediging van ’n afskrif van die dossier voorsien sodat die beskuldigde se posisie beoordeel kan word en die verdediging kan bepaal hoe om voort te gaan.

Ruan Esterhuizen saam met sy twee susters, Denice en Cherice. Foto verskaf

Luidens hofkommunikasie het Letsie die hof in kennis gestel dat sy regsverteenwoordiger van voorneme is om formele vertoë aan die aanklaer te rig rakende vertragings in die vervolgingsproses.

Volgens Albie, Jane se pa, is die oorledenes se naasbestaandes bewus daarvan dat die beskuldigde ’n voormalige prokureur is, hoewel dit nie heeltemal duidelik is of sy ongeluk daartoe gelei het dat hy verwyder of uitgesluit is nie, of dat dit as gevolg van vorige probleme of voorvalle was nie.

“Gegewe sy agtergrond is hy vertroud met die regstelsel en verstaan hy hoe om verskeie prosedures te gebruik om ’n saak te verleng en uit te rek. Ons moet onsself voorberei vir daardie moontlikheid, aangesien dit waarskynlik sal gebeur tensy iets intussen verander en hy gevonnis word.”

Jackie Willis. Foto verskaf

Cherice Grobler, Esterhuizen se suster sê sy verstaan dit is ’n lang proses, maar dit maak dit nie makliker nie. “Dis moeilik. Om elke keer in die hof te gaan sit net dat hulle dit oor en oor uitstel.

“Ek is so kwaad, ek voel asof ek ’n vuur (in) my het wat daagliks al my organe verbrand! Ruan was my bababoetie, my hele wêreld!”

Die “konneksies” wat Letsie het in die hof, is duidelik sigbaar, sê Grobler, “en dis sleg, want iewers gaan daar ’n streep getrek moet word met “wie hy is en wat hy veroorsaak het”.

Jané Janse van Rensburg met die engelvlerkhangertjie. Foto verskaf

Sy sê baie mense koppel geregtigheid en vrede aan mekaar, met die siening dat sou geregtigheid geskied, vrede sal heers. “Nee. Ons sal nie. Geregtigheid moet geskied, want die man het wette oortree wat my boetie se lewe gevat het. Ek sal nooit vrede hê nie, dis nie in die plan vir my nie.”

Sy voel die saak word nie ernstig opgeneem nie en asof die families nie in ag geneem word nie. “Van die families kom van ver af om hofverrigtinge by te woon, net dat dit oor en oor uitgestel word.”

Max Knott-Craig. Foto verskaf

“Ek geen nie om wie die man is nie, ek gee nie om wat sy titel is of was nie. Ek is kwaad, my hart is seer. Elke dag wat ek opstaan verloor ek my boetie weer, wat het hy verloor?”


Die laaste groepfoto saam met Jackie, Ruan en Max. Foto verskaf

“Ruan, Jackie, Max en Jane is soveel meer as net statistieke! Ons regstelsel is uiters swak – ek voel wel dat hy nie in Klerksdorp vervolg kan word nie. Hy’t te veel ‘maats’. Ons is reg vir die fight. Ek wens net dit kon vinniger beweeg.”

Die vier vriende is op 13 Oktober 2024 omstreeks 19:00 in ’n botsing dood by die kruising van die N12 en Plataanlaan.

Hulle was op pad huis toe vanaf die Matlosana-winkelsentrum nadat hulle die dag saam by die dam deurgebring het. By die verkeersligte op pad huis toe is hul voertuig getref deur ’n Mercedes-Benz wat in die teenoorgestelde rigting gery het.

Esterhuizen, Willis en Janse van Rensburg is op die toneel dood. Knott-Craig het ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die bestuurder van die Mercedes-Benz het na bewering van die toneel gevlug en die voertuig agtergelaat. Hy het homself twee dae ná die ongeluk aan die polisie oorgegee, het kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder vroeër gesê.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.