On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Hardloop met hart: 145 km vir die Noordwes-DBV

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:59 Tue, 28 Apr 2026

Hardloop met hart: 145 km vir die Noordwes-DBV | News Article
Dirk Pretorius saam met sy twee honde, Mango en Jaffel. Foto verskaf

’n Jong man van Noordwes wil amper 150 km binne ‘n dag hardloop om diegene te help wat nie vir hulself kan praat nie.

Dirk Anton Pretorius (24) sal op 6 November ’n uitmergelende 145 km-wedloop tussen Potchefstroom en Rustenburg aanpak ter ondersteuning van Rustenburg se Dierebeskermingsvereniging (DBV). Dis ’n geweldige uitdaging, veral vir iemand wat homself as betreklik nuut in langafstandhardloop beskryf.

Pretorius beplan om die afstand binne net 20 uur af te lê. “Dit gaan nie oor net die afstand of persoonlike prestasie nie – dit gaan daaroor om ’n werklike verskil te maak vir diere in nood.”


Pretorius, ’n sakeman wat ’n pandjieswinkel, troulokaal en plaas met boerbokke bedryf, is ook ’n aspirant-afslaer. Terwyl sy daaglikse lewe reeds veeleisend is, het hy homself ten volle tot dié uitdaging verbind deur gereeld te oefen en elke week tussen 40 km en 60 km te hardloop.

Sy motivering strek egter veel verder as fiksheid, en hy glo die geleentheid was goddelik geïnspireer. “God het dit na my kant toe gestuur, en jy kan nie nee sê as iets van bo af kom nie.”

Dirk Pretorius glo mense se doel op aarde is om mekaar te help. Foto verskaf

“Ek het ’n sagte plekkie vir diere, en Rustenburg is my dorp – jy moet ’n verskil maak in dinge wat jou na aan hart lê,” verduidelik hy. “As ek nie ’n verskil maak nie, wie sal? Hulle het mense nodig.”

Maar dit gaan beslis nie kinderspeletjies wees nie, erken hy. “Ek verwag uitdagings soos krampe, moegheid en die geestelike spanning om deur uitputting te druk. Maar ek sal dit doen – selfs al moet ek kruip.”

Pretorius het self twee honde, een aangeneem van die DBV en ’n ander van sy bure.

Die opbrengs van sy poging sal gebruik word om die lewensomstandighede van diere in die sorg van die DBV te verbeter en om hul deurlopende maandelikse uitgawes te help bestry. “Ek hoop dat meer mense iets soortgelyks sal aanpak, en dat ek ander sal inspireer en aanmoedig om by te dra waar hulle kan.”

Hy moedig die publiek aan om die projek te ondersteun en deel te neem aan ’n pretdraf wat vir 6 Junie by Dirk se onthaalplek, Aurora Venue, beplan word as deel van die aanloop tot die hoofgeleentheid.

“God is groot. Ons doel op aarde is om mekaar te help, en die enigste manier om ’n verskil te maak, is as ons saamstaan.” 

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.