Central SA
Man wat sy vrou glo bedwelm, verkrag sit borgtogaansoek voort─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:14 Tue, 28 Apr 2026
Die borgtogaansoek van ’n man wat na bewering sy vrou bedwelm en verkrag het, asook ’n medebeskuldigde se borgtogaansoek gaan op 4 Mei voort.
Die twee mans het Donderdag (23/4) weer in die Boksburgse landdroshof aan die Oos-Rand voorgekom vir ’n formele borgtogaansoek. Die saak is op 1 April uitgestel nadat beskuldigde een (34) die dienste van Warren Brider, sy regsverteenwoordiger, op 28 Maart beëindig het. Dis onbekend waarom.
Die 34-jarige staan tereg op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, die verspreiding van intieme beelde sonder toestemming en die besit van kinderpornografie.
Vyf jaar
Hy het na bewering oor ’n tydperk van vyf jaar sy vrou bedwelm en verkrag terwyl hy pornografiese materiaal opgeneem en versprei het wat seksuele dade met haar uitbeeld. Die materiaal is na bewering op ’n eksklusiewe sosialemediaplatform gedeel sonder haar toestemming of medewete.
Sy medebeskuldigde (48) staan tereg op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, verspreiding van intieme beelde sonder toestemming, besit van kinderpornografie, die gebruik van kinders om pornografie te vervaardig, onwettige besit van vuurwapens en onwettige besit van ammunisie.
Borgtogaansoeke
Die twee beskuldigdes ken mekaar. Albei se identiteit word weerhou om die slagoffers te beskerm.
“Die saak is uitgestel om beskuldigde nommer een tyd te gun om met Samkele Kuzani, sy nuwe regsverteenwoordiger, te konsulteer,” sê Magaboke Mohlatlole, Gautengse NVG-woordvoerder.
“Beskuldigde nommer twee (48) se regsverteenwoordiger, Frik van Rensburg, sê egter hy is gereed om met die borgtogaansoek voort te gaan.”
Die landdros het beslis die borgtogaansoeke van albei beskuldigdes word gelyktydig aangehoor. Die staat staan albei se aansoek teen. Hulle kan blykbaar gevaar inhou vir die slagoffers as hulle vrygelaat word.
Kaalfoto’s van tienerdogter
Maria Fyfe, staatsaanklaer, sê die beskuldigdes kan die slagoffers beïnvloed of intimideer, aangesien hulle nog nie getuig het nie. “Beskuldigde nommer een het reeds vir sy vrou gelieg en haar gevra om vir die polisie en die hof te lieg deur te beweer dat sy (ingestem het tot die dade).”
Volgens Mohlatlole is die staat ook bekommerd oor die veiligheid van beskuldigde nommer twee se tienerdogter. “Kaalfoto’s van haar is op sy selfoon gekry.”
Ná die inhegtenisneming van beskuldigde nommer een het nadere ondersoek die polisie na beskuldigde nommer twee in Germiston gelei. Dit het later aan die lig gekom die mans ken mekaar.
Verslag
Hulle is aangekeer nadat die Nasionale Misdaadagentskap ’n intelligensieverslag van die Britse hoëkommissaris in Kaapstad gestuur het na die misdaadeenheid wat elektroniese oortredings ondersoek (Seci). Die verslag het gehandel oor ’n Suid-Afrikaner wat na bewering betrokke is by seksuele dade met slapende mense.
Die ondersoekspan het bestaan uit beamptes van die nasionale en provinsiale Seci-eenheid in Gauteng, en is bygestaan deur die Amerikaanse ambassade se afdeling vir binnelandse veiligheid.
Die polisie het ook op die tweede verdagte se elektroniese toestelle beslag gelê, asook twee ongelisensieerde vuurwapens in sy besit gekry. Mohlatlole sê ondersoeke en forensiese ontleding van die verdagtes se toestelle is aan die gang.
Die aanklagte sluit ook in die oortreding van art. 16 van die Wet op Kubermisdaad wat handel oor die verspreiding van eksplisiete beeldmateriaal sonder die slagoffer se toestemming.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

