Central SA
Advokaat van Kimberley, pa se moordverhoor begin dán─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:46 Wed, 29 Apr 2026
Die moordsaak waarby ’n advokaat van Kimberley, haar pa en ’n medebeskuldigde betrokke is, sal na verwagting in Augustus aangehoor word.
Die hooggeregshof in die Diamantstad het ’n stokkie gesteek voor die verdediging se poging om die hofsaak te vertraag. Die verhoor sal van 24 Augustus tot 4 September plaasvind, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap.
Celeste Nameka (43), haar pa, Clive Ferris (67) en hul medebeskuldigde, Oberay Mabidja, het Vrydag (24/4) in die hof voorgekom. Hulle staan tereg op verskeie aanklagte wat verband hou met ’n noodlottige skietvoorval in die suidelike woonbuurt van Kimberley, Minerva Gardens.
Charmaine Anthony is op 21 Desember 2024 tydens dié voorval geskiet en het later aan haar wonde beswyk. Haar seun, Lucan Anthony, is ook beseer nadat hy na bewering aangerand en geskiet is.

Clive Ferris en sy dogter, Celeste Nameka, tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: SABC News (skermgreep)
Nameka en Ferris staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Ferris staan ook tereg op aanranding met die opset om ernstig te beseer, die afvuur van ’n vuurwapen, die onwettige besit van ’n vuurwapen en oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer, sowel as die onwettige besit van ammunisie. Mabidja word aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Staatsadvokaat 'moet onttrek'
Die verdediging het aangevoer hulle wil voortgaan met ’n aansoek om die onttrekking van staatsadvokaat Jacques Rosenberg. Hulle beskuldig hom van belangebotsing weens ’n afsonderlike saak van gesinsgeweld wat blykbaar kommer wek oor ’n billike verhoor.
Adv. Joy Mongala, Nameka se regsverteenwoordiger, wag steeds op terugvoering oor ’n petisie wat by die minister van justisie en die NVG ingedien is.
'Geen geldige gronde vir onttrekking'
Hannes Cloete, waarnemende provinsiale direkteur van openbare vervolging, het egter gesê daar was geen geldige gronde vir die onttrekking van Rosenberg as staatsadvokaat nie. Die hof het uiteindelik verdere vertragings gedwarsboom en beide die aanklaer en verdediging het aangedui hulle is gereed om voort te gaan.
Die opspraakwekkende skietvoorval het vroegoggend plaasgevind in ’n woonkompleks in Minerva Gardens waar Nameka saam met haar kêrel, Lucan Anthony, gewoon het.
Die staat voer aan sy het Ferris gebel ná ’n rusie met Anthony. “Ferris het toe glo met ’n vuurwapen daar aangekom, mense gedreig, aangerand en ook op hulle geskiet,” sê Senokoatsane.

Charmaine Anthony is tydens die voorval raakgeskiet, terwyl haar seun in die been en sitvlak getref is. Charmaine het in die hospitaal aan haar beserings beswyk.
Ferris, oudskoolhoof van die Primêre Skool Homevale, is enkele dae later in die landdroshof aangekla, en Nameka is vroeg in Januarie verlede jaar as medebeskuldigde bygevoeg. Sy is later op borgtog van R5 500 vrygelaat.
Haar pa is vroeg in Februarie borgtog van R10 000 toegestaan nadat hy by die hooggeregshof geappelleer het omdat hy te swak was om in aanhouding te bly.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

