On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vier van Noordwes vas ná moord op egpaar in slaghuis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:14 Thu, 30 Apr 2026

Vier van Noordwes vas ná moord op egpaar in slaghuis | News Article
Sergio en Marlene Gomes. Foto: Facebook

Vier verdagtes van Noordwes kom na verwagting Donderdag (30/4) voor in die hof ná die moord op ’n bekende sake-egpaar van Mahikeng.

Rowers het Vrydag (24/4) op Sergio en Marlene Gomes se slaghuis in Mahikeng naby hul huis in die Golf View-woonbuurt toegeslaan. Marlene is op die toneel doodgeskiet en Sergio het ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die vier verdagtes (tussen 21 en 37) is Woensdag (29/4) in hegtenis geneem nadat die polisie ’n wenk opgevolg het, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder. “Twee word aangekla van die dubbele moord op die egpaar en sakeroof. Al vier word aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.”

Die verdagtes is in ’n nedersetting naby Mmabatho in hegtenis geneem. “Die polisie het op vier pistole beslag gelê, waarvan een ’n namaaksel is wat baie realisties lyk. Een van die regte pistole het aan die slagoffer (Sergio) behoort.”

Die Gomes-egpaar was bekende besigheidseienaars op die dorp. Foto verskaf

Die polisie het Vrydagaand ’n noodoproep ontvang oor ’n skietery in die Golf View-woonbuurt. “Met hul aankoms op die toneel het beamptes bloedvlekke op die sypaadjie waargeneem en ’n vrou se liggaam op die grond ontdek. Sergio was teen daardie tyd reeds hospitaal toe geneem,” het sers. Kelebogile Morake, Noordwes-polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

'Die slagoffers is gedwing om op die vloer te lê'

Die paartjie het hul na bewering van hul huis na die slaghuis gehaas nadat hulle gehoor het hul seun word daar beroof. “Toe hulle by die sakeperseel aankom, het hulle die rowers by die ingang teëgekom,” sê Morake.

“Die rowers het die slaghuis binnegegaan en die slagoffers gedwing om op die vloer te lê. Hulle het hulle gedreig en aangerand.”

Die rowers het talle selfone, kontant, ’n skootrekenaar en die sleutels van ’n Ford Ranger gesteel het, wat hulle gebruik het om van die toneel te vlug. Die voertuig is die volgende dag verlate in die nedersetting Magogwe naby Mahikeng gevind. Van die gesteelde selfone is later in ’n nabygeleë veld gekry.

Myburgh sê nog inhegtenisnemings kan binnekort verwag word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe   cvdw

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.