Central SA
Noord-Kaap: Motoriste gewaarsku oor gevaarlike padtoestande weens reën─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Thu, 30 Apr 2026
Motoriste word versoek om uiters versigtig in die Noord-Kaap te bestuur, veral op grondpaaie.
Dele van die andersins dorre provinsie het Donderdag (30/4) steeds deurgeloop onder kwaai donderstorms en swaar neerslae wat gevaarlike padtoestande skep en die gevaar van oorstromings verhoog.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n vlak 2-waarskuwing vir erge donderstorms uitgereik. Beamptes het reeds wydverspreide skade in talle distrikte aangemeld.
Deurdringende en swaar reënval beskadig infrastruktuur en bemoeilik reis aansienlik nadat paaie oorstroom het in groot dele van die Noord-Kaap, veral in die John Taolo Gaetsewe-distrik, sê Fufe Makatong, Noord-Kaapse LUR vir paaie en openbare werke.
Talle roetes in dié distrik, wat dorpe soos Kathu, Kuruman en Olifantshoek insluit, is gesluit of net deels begaanbaar weens oorstromings, weggespoelde padrande en oorlopende afvoerslote, wat toegang tussen dorpe soos Heiso, Dithakong en omliggende gebiede tussen Kuruman en Vryburg beïnvloed.

Die paaie in die Noord-Kaap is nat ná swaar reënval. Foto iStock
In Namakwaland is vername roetes ook beskadig, terwyl voortdurende herstelwerk aan die gang is om toegang te herstel. Intussen is talle roetes nat, modderig en onveilig weens wydverspreide skade aan grondpaaie in die ZF Mgcawu-distrik (Upington en omstreke) – veral vir swaarvoertuie in die Kalahari.
“Motoriste word aangeraai om nie oorstroomde paaie of brûe oor te steek nie en modderige grondpaaie te vermy. Indien paaie gesluit is, moet alternatiewe roetes gebruik word,” sê Makatong.
Terselfdertyd vra die polisie inwoners moet hul veiligheid voor oë hou en waaksaam wees tydens gure weer.
Oorstromings kan lewensgevaarlik wees
“Erge donderstorms en swaar reënval oor dele van die Noord-Kaap laat ontstaan ernstige kommer oor die veiligheid van inwoners, veral kwesbare groepe,” sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.
Sy spoor inwoners wat in laagliggende gebiede woon aan om watervlakke fyn dop te hou en, indien nodig, na hoër grond te ontruim.
Ehlers waarsku ook selfs oppervlakkige oorstromings kan lewensgevaarlik wees. “Moet nooit probeer om in snelvloeiende water te loop, swem of te ry nie. Selfs water wat 15 cm diep is, kan jou laat balans verloor.”
Inwoners word aangeraai om kontak te vermy met vloedwater, wat besmet kan wees, en om weg te bly van kraglyne en elektriese drade.
Ehlers moedig inwoners aan om binnenshuis te bly tydens swaar reën en om oop gebiede, bome en metaalstrukture te vermy. Ouers word ook daaraan herinner om te verseker dat kinders behoorlik vasgemaak is wanneer hulle reis.
“Die departement het reaksiespanne ontplooi en hou die situasie noukeurig dop, met herstelwerk wat reeds in die betrokke gebiede aan die gang is,” sê Makatong.
Inwoners kan padskade of gevare via WhatsApp aanmeld by 066 581 5626.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

