Central SA
Saak weer op hofrol ná kabeldiefstal in Vrystaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:19 Fri, 01 May 2026
Die saak wat verband hou met die diefstal van Eskom-infrastruktuur is voorheen weens ’n administratiewe fout van die hofrol geskrap.
Vier mans van Steynsrus sal na verwagting op 12 Mei in die streekhof op die dorp verskyn. Hulle het voorheen op 7 April in die hof verskyn, sê ao. Fikiswa Matoti.
Die beskuldigdes is Phatha Jan Moloja (39), Radiakae John Tshabalala (40) en Molifi Skalan Moleleki (50). Hierdie ontwikkeling volg op ’n verbeurdverklaring wat op 23 April 2026 deur die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein toegestaan is.
Die staat mag nou wettig eienaarskap van bates neem wat met misdaad verband hou. Dit sluit in geld, voertuie, eiendom en ander waardevolle artikels.
Beslaglegging
“Die polisie het beslag gelê op ’n Ford Ranger ter waarde van R350 000 wat verbind word met die diefstal van koperkabels en onderdele van transformators,” sê Matoti.
Volgens Matoti het die voorval op 9 Mei 2025 plaasgevind toe ’n boer op Steynsrus inligting ontvang het oor ’n beplande diefstal van ’n Eskom-transformator en die polisie gewaarsku het.
“Die boer het die toneel gemonitor en na bewering drie verdagtes dopgehou wat die onderdele van die transformator op ’n wit Ford Ranger gesny en gelaai het.”
Die polisie het later die voertuig naby Steynsrus voorgekeer en gesteelde items van meer as R511 000 teruggevind. “Die saak is daarna aan die Valke en die NVG se batebeslagleggingseenheid oorhandig."
Hoewel die saak aanvanklik weens ’n administratiewe fout van die hofrol geskrap is, is dit sedertdien herstel en ’n bewaringsbevel vir die voertuig is verkry.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

