On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vyfde verdagte aangekeer ná moord op Noordwes-egpaar in slaghuis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:23 Fri, 01 May 2026

Vyfde verdagte aangekeer ná moord op Noordwes-egpaar in slaghuis | News Article
Sergio en Marlene Gomes is by hul slaghuis geskiet. Foto: Facebook

Die verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op 'n sake-egpaar van Mahikeng. Die vier ander beskuldigdes bly in aanhouding.

Die vyfde verdagte (32) sal na verwagting Maandag (4/5) in die Mmabatho-landdroshof verskyn. Hy staan tereg op aanklagte van moord, sakeroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

“Die verdagte is Donderdag (30/4) in Itsoseng aangekeer,” sê kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die egpaar Sergio en Marlene Gomes is Vrydag (24/4) dood tydens 'n rooftog by hul slaghuis. Marlene is op die toneel doodgeskiet, terwyl Sergio later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Volgens Myburgh het hulle na bewering na die slaghuis gejaag nadat hulle gehoor het dat hul seun daar beroof word.

Sergio en Marlene Gomes was bekende sake-eienaars op die dorp. Foto verskaf

“Met hul aankoms is hulle na bewering deur gewapende mans binne die perseel in gedwing. Die verdagtes het glo selfone, kontant, 'n skootrekenaar en voertuigsleutels gevat voordat hulle gevlug het.”

Die gesteelde Ford Ranger is later verlate in Magogwe gevind, terwyl sommige van die gesteelde selfone in ’n nabygeleë veld gekry is.

Die ander vier verdagtes, van 21 tot 37 jaar oud, is Woensdag (29/4) in hegtenis geneem ná intelligensie-gedrewe operasies in ’n nedersetting naby Mmabatho.

Die polisie het vier vuurwapens tydens die inhegtenisnemings teruggevind, insluitend 'n pistool wat met een van die slagoffers verbind kon word.

Die vier mans het Donderdag (30/4) in die Mmabatho-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, sakeroof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Hulle bly in aanhouding en sal na verwagting Woensdag (6/5) vir ’n formele borgtogaansoek in die hof verskyn. Myburgh sê die ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word nie. 

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.