Central SA
Noordwes-polisie waarsku teen nat paaie en oorvol riviere─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:23 Fri, 01 May 2026
Die polisie in Noordwes doen ’n beroep op inwoners om uiters versigtig te wees rondom damme en riviere wat tans vol is.
Damme en riviere in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrik wat aan die Noord-Kaap grens loop oor weens swaar reën,” sê Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder. Van die paaie is ook oorstroom.
“Polisieduikers is Vrydag (1/5) ontplooi om met verskeie voorvalle te help waar motoriste in hul voertuie vasgekeer is. Mense is ook deur riviere meegesleur, maar niemand is oorlede nie.”
Die polisie se veiligheidswenke:
- Moenie paaie oorsteek wat gesluit is weens water wat oor die padoppervlak stroom nie.
- Bepaal die sterkte en spoed van die stroom noukeurig.
- As jy in ’n vinnig vloeiende rivier vasgevang is probeer om met jou voete eerste te dryf om jou kop en liggaam teen ernstige beserings te beskerm.
- As jy in die water val en nie kan staan of die kant kan bereik nie moet jy kalm bly, probeer om nie water te sluk nie, jou kop bo die water hou deur te skop asof jy fiets ry en terselfdertyd met jou hande roei.
- Swem in oop water is baie moeiliker as om in ’n swembad te swem wat beteken dat jy dalk vinniger moeg kan word.
- Troebel water in riviere of mere kan dit moeilik maak vir reddingswerkers om mense op te spoor.
- Swem in gebiede met sterk strome, soos waar twee riviere bymekaarkom, verhoog die risiko om meegesleur te word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

