Central SA
Noord-Kaapse lusernboer se moordverhoor begin binnekort─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Sun, 03 May 2026
Die verhoor van ’n boer wat daarvan beskuldig word dat hy twee van sy vriende vermoor het, sal nou byna drie jaar later begin.
Jacobus “Japie” Dawid Claassens (59), ’n lusernboer van Vioolsdrif, sal na verwagting van 18 tot 22 Mei en weer van 8 tot 12 Junie in die rondgaande hooggeregshof op Springbok verskyn. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, asook die besit van meer as 200 patrone vir ’n Beretta-haelgeweer.
Die aanklagte spruit uit ’n voorval in die vroeë oggendure van 31 Oktober 2023, toe Claassens na bewering twee mans by sy huis geskiet het, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Die slagoffers, Coenraad “Coenie” de Beer (54), ’n prokureur van Knysna en direkteur van De Beer Attorneys, en James Kriel (56), ’n proteaboer van Baardskeerdersbos en eienaar van die Tierfontein Rondawel, was na bewering destyds op pad na Namibië vir ’n vakansie.

Jacobus Dawid Claassens. Foto: NVG
Volgens Senokoatsane is die twee mans omstreeks 04:30 in hul slaap geskiet. Claassens het daarna na die polisie gegaan om die skietery aan te meld.
“Toe beamptes by die eiendom aankom, het hulle albei slagoffers in ’n kritieke toestand aangetref. Hulle is na ’n hospitaal in Upington vervoer waar hulle later op 1 November 2023 aan hul beserings beswyk het.”
Ten tye van die voorval was die slagoffers nie alleen op die kleinhoewe nie. Coenraad (25) , De Beer se seun, en Grant Thompson, ’n vriend van Claassens, was teenwoordig toe die skietery plaasgevind het.
Classens is aanvanklik van poging tot moord aangekla ná sy inhegtenisneming. Tydens sy verskyning in November 2023 het die distrikshof gehoor dat die twee slagoffers oorlede is en die aanklagte is na twee aanklagte van moord verander. Hy is op borgtog van R5 000 met sekere voorwaardes vrygelaat.
“Claassens moet elke Saterdag by die naaste polisiekantoor aanmeld. Hy mag geen direkte of indirekte kontak met getuies hê, moet by sy huidige adres bly en die ondersoekbeampte binne 24 uur van enige reisplanne inlig,” sê Senokoatsane.
Hy moes ook sy paspoort inhandig en mag nie nog misdade pleeg nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

