On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Yvette
Listen Live Streams

Central SA

Sommige paaie en brûe steeds gesluit in John Taolo Gaetsewe-munisipaliteit

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:04 Sat, 02 May 2026

Sommige paaie en brûe steeds gesluit in John Taolo Gaetsewe-munisipaliteit | News Article
Motoriste in die Noord-Kaap moenie op oorstroomde paaie bestuur nie. Foto verskaf

Verskeie paaie en brûe in die Noord-Kaap bly gesluit ná aanhoudende swaar reënval en swaar donderstorms. Infrastrukture is beskadig en reistoestande is in die stadium uiters gevaarlik.

Owerhede waarsku die toestande het nog nie verbeter nie en baie roetes is steeds onveilig vir openbare gebruik. Die departement van paaie en openbare werke sê hierdie sluitings sal tot verdere kennisgewing geld, aangesien vloedskade, weggespoelde padoppervlakke en verswakte brugstrukture ernstige risiko’s vir motoriste en voetgangers inhou.

Brûe wat gesluit is

• Metswetsaneng-brug (DR3475)

• Ellendale-brug (DR3475)

• Cardington (MR0948)

• Tsineng (MR0946)

• Dithakong-brug (MR0947)

• Ditshipeng-brug (MR0948)

• Bothithong na Dithakong (MR0952)

• Sisibalang is nog nie gesluit nie, maar waarskuwingstekens is opgerig en die situasie word gemonitor.


Paaie wat onbegaanbaar is

• Heiso-pad (MR0947)

• Stillrus na Damros-pad (DR03479)

• Bothetheletsa-pad (DR0349)

• Boithithong na Dithakong-pad (MR0952)

Amptenare beklemtoon hierdie sluitings is kritieke veiligheidsmaatreëls en nie voorsorgmaatreëls nie. Strukturele skade en oorstromings het hierdie roetes baie gevaarlik gemaak.

“Ten spyte hiervan is daar berigte van motoriste wat versperrings verwyder en waarskuwingstekens ignoreer om oorstroomde gebiede oor te steek, sê Zandisile Luphahla, departementele woordvoerder. “Dit is uiters roekeloos en plaas mense se lewe in ernstige gevaar.”

Vlak 2-waarskuwing

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n vlak 2-waarskuwing vir dele van die Noord-Kaap uitgereik en groot skade is reeds aangemeld.

Gebiede soos Kathu, Kuruman en Olifantshoek is swaar getref met oorstromings wat toegang tussen gemeenskappe soos Heiso en Dithakong ontwrig en langs roetes wat Kuruman en Vryburg verbind.

• In Namakwaland is die hoofroetes beskadig en is daar met herstelwerk begin. 

• ZF Mgcawu Distriksmunisipaliteit, insluitend Upington, se paaie is modderig en onveilig – veral in die Kalahari-gebiede.

Die publiek word gewaarsku om versigtig te wees. 

• Moenie probeer om oorstroomde paaie of brûe oor te steek nie.

• Moenie versperrings en waarskuwingstekens ignoreer of verwyder nie.

• Vermy modderige grondpaaie en gebruik alternatiewe roetes.

• Vloedwater kan dodelik wees en selfs vlak water kan voertuie meesleur of veroorsaak dat mense hul balans verloor.

'n Motor het op die pad tussen Kuruman en Vryburg in die water beland. Foto: Facebook

“Moet nooit probeer om deur vinnig vloeiende water te loop, swem of te ry nie. Selfs vlak water kan lewensgevaarlik wees,” sê die Noord-Kaapse polisie.

Inwoners in laagliggende gebiede moet watervlakke monitor en na hoër grond beweeg indien nodig. Mense word ook aangeraai om kontak met vloedwater te vermy en weg te bly van elektriese infrastruktuur.

Reaksiespanne monitor toestande en doen herstelwerk waar moontlik.

Reën in die Noord-Kaap het die afgelope paar dae groot skade aangerig. Foto verskaf

Vir enige padskade of gevare stuur ’n whatsApp na 066 581 5626.

“Owerhede doen ’n beroep op almal se samewerking. As iemand padsluitings ignoreer, stel dit mense se lewe in gevaar en plaas bykomende druk op nooddienste,” sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.