Central SA
‘Hoe vier Suid-Afrika Werkersdag met soveel mense wat werkloos is?’ – DA─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:28 Sat, 02 May 2026
Suid-Afrika kan nie werklik Werkersdag vier nie, want miljoene mense het nie werk nie. Die “waardigheid van werk” is nie beskore vir ’n groot deel van die bevolking nie.
Die DA beskryf die dag as ’n teenstrydigheid want Suid-Afrika is ’n land waar werk steeds buite bereik is vir miljoene mense.
Volgens die jongste amptelike syfers is Suid-Afrika se werkloosheidsyfer 31,4%, wat styg tot 42,1% wanneer ontmoedigde werksoekers ingesluit word. Dit beteken ongeveer 7,8 miljoen mense is sonder werk – ’n situasie wat die party as ’n nasionale krisis bestempel, sê Geordin Hill-Lewis, DA-leier
“Werkersdag, wat elke jaar op 1 Mei gevier word, moet ’n viering van waardigheid en geleentheid wees, maar in Suid-Afrika het dit ’n herinnering geword aan hoeveel mense nie een van die twee het nie.”

“Daar is min waardigheid daaraan verbonde om uit die ekonomie gesluit te word. Dit is onregverdig om te verwag dat jong mense Werkersdag moet vier wanneer so baie van hulle nog nooit die kans gehad het om werkers te word nie.”
Hy kritiseer ook wat hy ’n jaarlikse parade van toesprake deur leiers noem en voer aan dat beleide bygedra het tot een van die ergste werkloosheidskrisisse wêreldwyd.
Hy sê werkgeleenthede word nie deur slagspreuke geskep nie. “Hulle word geskep wanneer ’n ekonomie groei, wanneer maatskappye met vertroue kan belê, wanneer infrastruktuur werk, wanneer strate veilig is en wanneer elektrisiteit betroubaar is.”

Selfs jong mense met kwalifikasies kry nie werk nie. Foto: iStock
Hill-Lewis sê die regering se rol moet wees om “die deur oop te maak vir geleenthede eerder as om in die deur te staan en dit te blokkeer”.
Met verwysing na provinsiale vergelykings, het hy die Wes-Kaap uitgelig as die provinsie met een van die laagste werkloosheidsyfers, naamlik 18,1% – aansienlik onder die nasionale gemiddelde. Die provinsie se uitgebreide werkloosheidsyfer is 23,7%.
Die party sê die provinsie het 93 000 werkgeleenthede in die laaste kwartaal van 2025 geskep en 95 000 die jaar bygevoeg, terwyl Kaapstad ’n werkloosheidsyfer van 19,8% aangeteken het en 113 000 werkgeleenthede jaar-op-jaar bygevoeg het.
“Dit beteken nie die werk is gedoen nie,” sê Hill-Lewis, “maar dit beteken wel dat beter regering beter uitkomste lewer.”
Hy beklemtoon die land se werkkrisis is nie onvermydelik nie. “Dit is polities. Dit is die gevolg van keuses. En verskillende keuses lewer verskillende resultate.”
Hill-Lewis sê as Suid-Afrika werklik werkers wil eer, moet dit fokus op die skep van meer werkgeleenthede deur ekonomiese groei en verbeterde infrastruktuur.
“Dit beteken om hawens, spoorweë, energie en polisiëring reg te stel. Dit beteken om Suid-Afrika weer aanloklik vir beleggers te maak.
“Die ware maatstaf van ’n pro-werkersregering is nie wat dit op 1 Mei sê nie. Dit is hoeveel werk dit help skep op elke ander dag van die jaar.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

