Central SA
Vrou van Limpopo verskaf vals besonderhede aan bank─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:03 Sat, 02 May 2026
'n Lasbrief vir ’n vrou se inhegtenisneming is uitgereik nadat sy na bewering die bank bedrieg het tydens die aankoop van ’n Ford Ranger.
Die polisie is opsoek na Cynthia Kgwete (37) wat van bedrog aangekla word nadat Nedbank ’n saak by die Lephalale-polisiekantoor aanhangig gemaak het. Sy het haarself as ’n kliënt voorgedoen en aansoek om motorfinansiering gedoen, sê kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Tydens die aansoekproses het sy glo vals dokumentasie ingedien en haar werk- en inkomstebesonderhede aangepas om goedkeuring van die bank te verkry.”

Cynthia Kgwete. Foto: SAPD
Haar aansoek is goedgekeur, maar daar is later ontdek dat ’n opsporingstoestel verwyder is nadat sy die handelaar verlaat het. Die bank het later vasgestel dat sy hulle bedrieg het.
Die polisie beweer sy het daarna geen paaiemente vir die voertuig betaal nie.
“Die saak van bedrog is op 2 Februarie geregistreer en ondersoeke toon die verdagte se werk- en woonadres in Gauteng is vals.”
Die polisie vra enigeen met meer inligting om sers. Simon Tjatjie Kekana, ondersoekbeampte, by 078 472 0505 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel. Anonieme wenke kan gestuur word via die MySAPS-app
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

