On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

‘Bloemfonteiners moet meer betaal vir swak infrastruktuur’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:13 Sun, 03 May 2026

‘Bloemfonteiners moet meer betaal vir swak infrastruktuur’ | News Article
Bloemfonteiners moet meer betaal vir swak infrastruktuur. Foto ter illustrasie: iStock

‘n Burgerregteorganisasie maak beswaar teen voorgestelde tariefverhogings van ’n Vrystaatse munisipaliteit en waarsku dat inwoners onregverdig belas word weens swak infrastruktuur en dienslewering.

AfriForum het Woensdsg (29/4) ’n formele beswaar ingedien teen die Mangaung metro se beplande water- en tariefverhogings vir die 2026/2027-boekjaar. Dit is gedoen weens grootskaalse waterverliese en voortdurende mislukkings om kritieke infrastruktuur in stand te hou.

In hul voorlegging het AfriForum die metro versoek om dringende herstelwerk van infrastruktuur te prioritiseer, waterverliese te verminder en deursigtige, verantwoordbare bestuur toe te pas, sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder.

“Totdat betekenisvolle verbeterings aangebring word, sal enige tariefverhogings onregverdig wees."

Volgens data het die metro die afgelope paar jaar meer as R1,6 miljard se water verloor weens lekkasies, verouderende infrastruktuur en swak instandhouding.

Groenewald sê hierdie verliese het gestyg van ongeveer R186 miljoen in die 2018/2019-boekjaar tot meer as R454 miljoen in 2022/2023.

Na bewering gaan byna die helfte van die metro se water verlore deur voorkombare probleme soos lekkasies, onwettige verbindings, foutiewe meters en swak infrastruktuur.

Huishoudings

Ten spyte van hierdie uitdagings stel die metro beduidende verhogings in watertariewe voor. AfriForum sê dit sal bykomende druk op reeds sukkelende huishoudings en ’n brose plaaslike ekonomie plaas.

Hy sê dit is onaanvaarbaar dat inwoners die koste dra van voortdurende wanbestuur en nalatigheid. Inwoners word dus gevra om “meer vir minder te betaal” terwyl groot hoeveelhede water steeds vermors word. 

“Die kwessie strek verder as finansies. Die waardigheid van gemeenskappe en die openbare vertroue in plaaslike regering word ondermyn.”

Groenewald sê die frustrasie onder gemeenskappe neem toe namate hulle worstel met onbetroubare watervoorsiening, stygende koste en swak dienslewering, terwyl die metro nie sy verantwoordelikhede nakom nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.