On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde hoor of hy wel verder vervolg sal word

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:39 Tue, 05 May 2026

Bejaarde hoor of hy wel verder vervolg sal word | News Article
Carl Christian Gutter. Foto: Charne van der Merwe

Die verdediging sal na verwagting Dinsdag (5/5) hoor of die nasionale direkteur van openbare vervolging ’n finale besluit geneem het oor ’n bejaarde boer van Brandfort se lot.

Indien die staat nie ’n definitiewe pad vorentoe in die saak aandui nie, kan dit van die rol geskrap word. Carl Christian Gutter (78) sal op aanklag van moord in die plaaslike landdroshof verskyn.

Volgens adv. Allen Simpson, sy regsverteenwoordiger, sloer die saak al lank en is dit al byna ’n jaar op die hofrol terwyl die verdediging wag op ’n besluit oor formele vertoë wat by die NVG ingedien is.

Landdros Rasheed Matthews het tydens Gutter se verskyning op 10 Desember gesê hy stel die saak weer uit vir behoorlike hantering, maar daar moet teen die volgende verrigtinge ’n besluit geneem word. Indien nie, sal die saak van die rol geskrap word.

Gutter staan tereg op ’n tien jaar oue moordklag wat voortspruit uit ’n voorval in Augustus 2016, toe hy na bewering Sonnyboy Segalo op sy plaas, Palmietfontein, doodgeskiet het.

Bejaarde boer se saak moontlik van rol geskrap sou staat nie besluit neem | News Article

Adv. Allen Simpson (links) en Carl Christian Gutter. Foto: Charne van der Merwe

Hy is op 21 Mei aangekeer en borgtog van R2 000 toegestaan. Hy het agt dae later weer verskyn en die verdediging het uitstel versoek om verdere vertoë in te dien.

Simpson het voorheen bevestig hulle wag steeds op ’n antwoord van die nasionale direkteur van openbare vervolging oor hul versoek dat die aanklagte teruggetrek word. Tydens die laaste hofverskyning het die staat gesê hy is van voorneme om met die vervolging voort te gaan en verskeie redes daarvoor aangevoer.

“Die voorlegging namens Gutter is oorweeg, maar onvoldoende bevind om die oorspronklike besluit om te vervolg, tersyde te stel. Dit is geneem op 6 Mei ná ’n geregtelike doodsondersoek,” het lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder, gesê.

“Die bevindinge in die geregtelike doodsondersoek is noukeurig hersien saam met die beskikbare bewyse en breër omstandighede, wat gelei het tot die gevolgtrekking dat vervolging moet voortgaan.”

Luidens polisieverslae is die polisie op 29 Augustus 2016 na Gutter se plaas ontbied ná bewerings van ’n poging om ’n plaasaanval uit te voer. Met hul aankoms het hulle vier verdagtes gevind wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou is.

Onder hulle was Segalo, wat gesig na onder gelê het met ’n skietwond in sy rug, het Mohobeleli vroeër gesê. “Twee vuurwapens is op die toneel gekonfiskeer vir ballistiese toetse.”

Segalo en die drie vermeende medepligtiges is aanvanklik aangekla van poging tot roof. Die drie medebeskuldigdes is intussen vrygespreek.

Segalo het aan sy beserings beswyk.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.