Central SA
Slagoffer van krokodil moontlik vermiste gastehuiseienaar─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:11 Tue, 05 May 2026
Die man, wie se oorskot in ’n krokodil gekry is nadat hy deur ’n rivier in vloed meegesleur is, is moontlik geëien as ’n vermiste gastehuiseienaar van Komatipoort.
Gabriel Batista, wat in Gauteng woon, is sedert Dinsdag vermis. DNS-toetse sal egter nog bevestig of dit dié van die vermiste man is.
Batista wou glo Saterdag (2/5) ’n laagwaterbrug in die Komatirivier met sy Ford Ranger oorsteek toe die voertuig weggespoel is.
’n Uitgebreide soektog om hom op te spoor, waarin ook helikopters en hommeltuie ingspan is, het dae lank voortgeduur. Die rivier het sy oewers oorstroom weens swaar reën in die omliggende gebied, het Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Kapt. Pottie Potgieter. Foto verskaf
Hierdie toestande het dit byna onmoontlik gemaak vir polisieduikers om deel te neem aan die soektog, en die spanne moes grootliks op die lugsoektog steun.
’n Byna beweginglose krokodil het Saterdag die aandag getrek.
Kapt. Pottie Potgieter, koördineerder van die polisie se binnelandse waterpolisiëring-en-duikeenheid in Mpumalanga, sê die dier het ongemaklik gelyk en nie baie beweeg nie.
“Presies soos ’n krokodil wat ’n groot maaltyd gehad het. Nadat hulle gevreet het, beweeg hulle min en soek hulle sonlig om vertering te bevorder.”
Toestemming is toe verleen om die reptiel, wat gewaar is sowat sowat 130 m van waar die Ford Ranger in die water gespoel is, van kant te maak.
Die dier, wat na raming sowat 600 kg geweeg het, is vanuit ’n helikopter geskiet en toe opgehys.

Joey Potgieter besig om die krokodil oop te sny. Foto verskaf
Potgieter se vrou, Joey, bevelvoerder van die Ehlanzeni-duikeenheid, het die krokodil se maag oopgesny. Twee arms, ’n stuk borsvel, ’n nier, lewer, longweefsel, ribbes en ’n deel van ’n ruggraat is in die dier gevind.
Potgieter vermoed die oorskot was vir ongeveer vier dae in die krokodil. Hy sê vingerafdrukke kan nog geneem word wat dan oorskot met sekerheid kan identifiseer.
Batista was die eienaar van die Border Country Inn in Komatipoort, naby die Lebombo-grens met Mosambiek.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Hetjy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

