Central SA
Klerksdorp-polisie vra hulp om OTM-rower op te spoor─── REFILWE BEKANE 11:00 Thu, 07 May 2026
Die polisie in Klerksdorp vra inwoners moet ’n vermeende sindikaatlid help opspoor wat hom uit die voete gemaak het toe hy in die hof moes verskyn het.
Ramagatsi Isaac (Mzaza) Molefi (41) is na bewering lid van ’n groep wat hulle daarop toespits om bankkaarte te gaps deur OTM-gebruikers se aandag af te lei. Hy is in hegtenis geneem en deur die streekhof op borgtog vrygelaat, maar het versuim om verlede Dinsdag (28/4) vir sy verhoor op te daag.
Kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder, sê sy misdaadrekord wys Molefi het sedert 2019 ’n geskiedenis van skuldigbevindings aan diefstal.
Die polisie vra enigeen met inligting oor waar hy hom bevind, moet ao. Connie Nepgen, ondersoekbeampte, by 068 906 5410 of 018 464 5028 bel. So nie, bel kol. Johannes Scholtz, Klerksdorp-takbevelvoerder, by 082 568 6264. Gee wenke naamloos deur met die MySAPS-app of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
Intussen het polisie in die Noord-Kaap ’n soektog suksesvol afgehandel nadat twee gevangenes Maandag (4/5) uit aanhouding ontsnap het onderweg na ’n korrektiewe instelling op Kuruman. Een van hulle, Oratile Theophilas Ntwagae (28), ’n Suid-Afrikaanse burger wat deur aanklagte van moord en ontvoering in die gesig gestaar word, is kort voor middernag dieselfde dag aangekeer.
Die tweede ontsnapte gevangene, Kabelo Edward Masilo (22), is Woensdagaand (6/5) opnuut in hegtenis geneem. Masilo, ’n Lesotho-burger, staan tereg op onder meer aanklagte van moord en talle oortredings van die Immigrasiewet, sê kol. Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Kabelo Edward Masilo (22), ’n Lesotho-burger, was op die vlug nadat hy Maandag (4/5) uit aanhouding ontsnap het onderweg na ’n korrektiewe instelling op Kuruman. Photo: SAPD
Ná die ontsnapping het die polisie onmiddellik ’n 72-uur-aktiveringsplan ingestel waarvolgens soveel moontlik hulpbronne ingespan word om hoërisiko-verdagtes vinnig vas te trek.
Die deurbraak het tussen 10:00 en 19:00 gekom toe ’n span, bestaande uit lede van die misdaadvoorkomingseenheid en ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy onder leiding van kapt. Nomvuyo Makoloi van Mothibistad, ’n soektog in die nedersetting Skerma uitvoer.
Hul gekoördineerde pogings het vrugte afgewerp toe hulle Masilo se skuilplek ontdek. Hy het probeer vlug, maar is aangekeer en weer in hegtenis geneem.
Brig. Kenneth Baloyi, waarnemende distrikskommissaris van John Taolo Gaetsewe, loof die span vir hul pogings en professionele optrede. Hy is ingenome met die samewerking tussen die polisie en die private veiligheidsbedryf.
Sulke vennootskappe is noodsaaklik om openbare veiligheid te handhaaf en te verseker dat voortvlugtiges teruggebring word en aan die man gebring word, sê hy.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-blitslyn by 066 487 1427.

