On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Aanhoudende reën dwing Noord-Kaapse skole tot stilstand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 16:42 Thu, 07 May 2026

Aanhoudende reën dwing Noord-Kaapse skole tot stilstand | News Article
Die pad tussen Kuruman en Vryburg. Foto verskaf

Aanhoudende swaar neerslae en wydverspreide oorstromings in dele van die Noord-Kaap ontwrig skoolonderrig in verskeie gemeenskappe.

Ongeveer 26 skole is gedwing om te sluit, wat meer as 13 000 leerders in die John Taolo Gaetsewe-distrik uit hul klaskamers hou weens oorstroomde paaie wat onbegaanbaar bly. Bekommernis heers oor die erge weerstoestande en die veiligheid van leerders en personeel is nou die hoogste prioriteit, sê Geoffrey van der Merwe, onderwyswoordvoerder.

Volgens die departement het voortdurende oorstromings toegang tot ’n aantal skole afgesny en geringe skade aan infrastruktuur veroorsaak. “Baie geaffekteerde leerders is afhanklik van skoolvervoer, wat nie kon funksioneer nie omdat roetes onder water is.”

Die departement het die distrikskantoor opdrag gegee om ’n inhaalplan vir die betrokke skole op te stel, sê Van der Merwe. Amptenare kan egter steeds nie bevestig wanneer skole veilig sal heropen of wanneer onderrig en leer ten volle sal hervat nie.

Die reën het ook paaie beskadig. Foto verskaf

Die erge weerstoestande duur al langer as ’n week. “Ons wil die publiek verseker dat die veiligheid van leerders, opvoeders en ondersteuningspersoneel ons topprioriteit bly. Skole sal eers hervat sodra dit veilig is vir almal om na en van skole te reis,” sê Van der Merwe.

Intussen het die departement van water en sanitasie (Woensdag (6/5) ’n dringende waarskuwing aan inwoners uitgereik soos oorstromings toeneem. “Die swaar stortreën het waterbergingstelsels, damme en riviere bo veilige vlakke gestoot, wat die vloedrisiko vir gemeenskappe langs die Vaal- en Oranjerivier, ander rivierstelsels en laagliggende gebiede verhoog,” sê Amogelang Moholeng, woordvoerder.

Die departement vra inwoners, veral diegene wat in vloedgeneigde en laagliggende gemeenskappe woon, om waaksaam te bly en uiters versigtig te wees namate watervlakke aanhou styg.

Noord-Kaapse skole kan nie normaal voortgaan nie weens die aanhoudende reën. Foto verskaf

Volgens Moholeng bly die Noord-Kaap se damme bo kapasiteit styg, met gemiddelde stoorvlakke wat van 104,8% tot 124,2% styg. Huidige volumes staan nou op 185,48 miljoen m³ – ver bo die provinsie se ontwerpte kapasiteit van 149,29 miljoen m³.

Die Spitskopdam naby Jan Kempdorp het een van die grootste toenames getoon, met ’n styging van 109,9% tot 164,4%. “Die oorstromings het reeds uitgebreide skade aan plase, huise en infrastruktuur veroorsaak, wat sommige gesinne gedwing het om hul eiendomme te verlaat.”

Hy sê Vanderkloofdam bly konstant op 102,8%, terwyl die Boegoebergdam op 117,9% gebly het. Watervlakke by die Vaalharts-keerwal naby Warrenton het effens gedaal van 85.5% tot 82.3%, maar die Douglas-keerwal het steeds gestyg van 131,6% tot 133,8%.

In teenstelling hiermee het die Kareedam, wat Calvinia en nabygeleë gemeenskappe van water voorsien, van 35,8% tot 34,7% gedaal.

Albei die provinsie se hoofrivierstelsels loop steeds bo volle kapasiteit, met die Vaalrivier op 102,2% en die Oranjerivier op 102,6%.

Moholeng verduidelik die provinsie se damme en keermure word hoofsaaklik gebruik om water te reguleer en te versprei na kanale, pypleidings en kragopwekkingstelsels, eerder as vir langtermynberging.

Riviermoniteringstasies langs die Oranje het ook verhoogde vlakke by Katlani (Douglas), Prieska, Upington, Onseepkans, Vioolsdrifbrug en Sendelingsdrif aangeteken.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.