On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Man wat kleuter glo vermoor laat vaar borg

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:33 Fri, 08 May 2026

Man wat kleuter glo vermoor laat vaar borg | News Article
Othniel Kuyanie. Foto verskaf

’n Noord-Kapenaar, wat daarvan beskuldig word dat hy ’n kleuter vermoor het, kom na verwagting weer voor op 26 Mei.

Gopolong Seele (25) het Maandag (4/5) sy borgtogaansoek in die Kimberleyse landdroshof laat vaar. Hy word aangekla van moord op Othniel Kuyanie, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Die polisie het die driejarige se oorskot op 22 April gevind, drie dae ná sy verdwyning. “Die kleuter se liggaam is gekry naby ’n pakkamer in die agterplaas van ’n huis in Vergenoeg, Galeshewe. Dit was in ’n rugsak tussen ’n hoop hout en bakstene.”


Volgens Senokoatsane het ’n soekspan, bestaande uit beamptes van die Galeshewe-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, Galeshewe se afdeling vir sigbare polisiëring, Kimberley se blitspatrollie en die honde-eenheid, gehelp met die soektog na die kind.

Die kleuter is in Seele se sorg gelaat nadat die kind se ma, Olgaleen Kuyani, op 19 April by sy huis met hom stry gekry het. Toe Kuyani die volgende dag terugkeer, was daar geen teken van haar kind.


Na bewering het Seele op 21 April, ’n dag voordat die kind se liggaam ontdek is, sosiale media gebruik om lede van die publiek te vra om te help met die soektog na die kleuter. Die kleuter is blykbaar by die Galeshewe-polisiekantoor deur die beskuldigde as vermis aangemeld.

Die saak teen Seele is sedertdien na die Kimberley-streekhof oorgeplaas vir verdere verrigtinge.

Kuyanie is Vrydag (1/5) begrawe.

Daar is geen wagtydperk om ’n persoon as vermis aan te meld nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:

  • Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
  • Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aangehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
  • Vul die polisie se 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
  • Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
  • As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. Die polisie se 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se geval uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.