Central SA
Noord-Kaapse man wat vrou, seun doodskiet bly agter tralies─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:44 Fri, 08 May 2026
’n Noord-Kapenaar, wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou en seun doodgeskiet het, sal na verwagting Donderdag (14/5) in die hof verskyn.
Die beskuldigde (54) het na bewering ook probeer om sy eie lewe te neem ná die voorval deur homself in die maag te skiet. Hy het die selftoegediende wond oorleef en Donderdag (7/5) in die Olifantshoek-landdroshof verskyn, sê kol. Cherelle Ehlers, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
Hy staan tereg op twee aanklagte van moord en een aanklag van poging tot moord nadat nog ’n familielid gewond is.
Die voorval het Sondag (3/5) omstreeks 12:00 by ’n familielid se huis in Welgeleë Olifantshoek plaasgevind. Trudie Olivier (51) het glo by haar seun, Gershwin (26) gekuier toe die beskuldigde daar opgedaag het.
Argument
Volgens Ehlers het daar ’n argument tussen hom en sy vrou ontstaan. “Gershwin het glo ingegryp in ’n poging om sy ma te beskerm, maar die situasie het verder geëskaleer, waarna die man toe glo ’n vuurwapen uitgehaal en losgebrand het.”
Trudie is sewe keer geskiet, terwyl Gershwin vyf keer geskiet is. Albei is op die toneel dood verklaar.
Ehlers sê nog ’n familielid, Vicky Appollis (36), is ook ses keer tydens die voorval geskiet. Sy het oorleef en is aanvanklik na die Kuruman-hospitaal geneem voordat sy na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley oorgeplaas is.

Vicky Appollis is ses keer geskiet. Foto verskaf
“Die slagoffer is in die waakeenheid opgeneem en het intussen ’n operasie ondergaan. Sy is sedertdien uit die intensiewesorgeenheid ontslaan en herstel in die hospitaal.”

Die verdagte het ná die voorval na ’n vriend se huis gevlug, waar hy na bewering ’n selftoegediende skietwond opgedoen het. Hy is na die Kuruman-hospitaal geneem en toe oorgeplaas na die die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, waar hy onder polisiewaking was. Hy is Dinsdag (5/5) ontslaan.
“Hy bly in aanhouding,” sê Ehlers.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.
