On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Motorfietsryer begin met rehabilitasie ná ongeluk in Karoo

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:06 Mon, 11 May 2026

Motorfietsryer begin met rehabilitasie ná ongeluk in Karoo | News Article
Jason Kilian, stigter van Modderbok Adventures. Foto verskaf

Die motorfietsryer wat ernstig beseer is tydens ’n geldinsamelingsrit vir brandslagoffers, begin nou met intensiewe rehabilitasie.

Jason Kilian, stigter van Modderbok Adventures, ondergaan indringende fiksieke en kognitiewe terapie byna sewe weke nadat hy kritiek beseer is. Hy was op 7 Maart in ’n ongeluk naby Carnarvon betrokke en is van toe af in die hospitaal.

Kilian het deelgeneem aan The Epic Ride, ’n reis van 4 800 km om geld in te samel vir die Hero Burn Foundation. Hy het ’n matige tot ernstige traumatiese breinbesering opgedoen – ’n tipe besering wat veroorsaak word wanneer die brein vinnig binne die skedel skuif of draai tydens ’n gewelddadige impak.

Hy het ook frakture aan sy C6- en C7-werwel opgedoen en later ingewikkelde nekoperasies ondergaan. Ná weke van intensiewe hospitaalsorg het Jason op 19 April sy eerste ondersteunde treë tydens fisioterapie gegee.

Jason Kilian, stigter van Modderbok Adventures. Foto verskaf

Hy is vier dae later na die rehabilitasiesentrum oorgeplaas, sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn Foundation en ’n vriendin. “Tydens sy eerste week by die fasiliteit het rehabilitasiespesialiste uitgebreide assesserings en skanderings gedoen om die beste behandelings vorentoe te bepaal.

“Jason het sedertdien baie meer intensiewe fisioterapiesessies gehad as wat tydens sy hospitaalverblyf moontlik was,” voeg sy by. Hoewel hy steeds gou moeg word, geniet hy veral die gimsessies en hou aan om homself tydens terapie te druk ten spyte van die waarmee hy steeds te kampe het.

Kilian het ook tye wat hy sukkel met toenemende verwarring en is soms onseker oor sy omgewing. “Sy frustrasievlakke is dan hoër en hy het sommige instruksies moeiliker gevind om te verwerk en te verstaan. Dokters het verduidelik dat hierdie ’n medies verwagte deel van neurologiese genesing ná ernstige breintrauma is.”

Jason Killian se stembande is ook al beter. Foto verskaf

Volgens Du Plooy is Kilian tans in Rancho-vlak IV, algemeen bekend as die “verwarde en opgewonde” fase van traumatiese breinbeseringherstel. Hierdie fase kan verwarring, emosionele hoogte- en laagtepunte, agitasie, oorstimulasie en probleme met die verwerking van die omgewing of instruksies insluit.

“Jason se stem het merkbaar sterker geword en sy stembande het duidelike tekens van genesing getoon. Sy regterstemband het ook geleidelik verbeter wat hom nou makliker hoorbaar maak,” sê Du Plooy.

Terwyl hy in intensiewesorg was, het hy meer as 20 kg verloor. Hoewel hy steeds met vloeistowwe aspireer en daardie voorsorgmaatreëls steeds nodig is, hoef sy kos nie meer fyngemaak te word nie, maar hy kan nou gemaalde en klam kos eet, asook effens groter porsies.

Jason Killian kry intensiewe rehabilitasie. Foto verskaf

Terapiesessies gaan ook steeds goed met Jason, wat nou effens langer afstande met hulp kan loop, hoewel hy steeds hoofsaaklik ’n rolstoel gebruik.

“Soos sy mobiliteit toegeneem het, het dokters ook ontdek dat Jason ’n kniebesering tydens die ongeluk opgedoen het wat aanvanklik ongemerk gebly het as gevolg van die erns van sy ander beserings. Hy ontvang nou behandeling hiervoor as deel van sy rehabilitasieprogram,” sê Du Plooy.

Kognitief lê ’n lang pad voor, maar bestendige vordering word steeds gemaak. Jason raak steeds uiters maklik moeg, en dokters beklemtoon steeds dat rus, slaap en hersteltyd noodsaaklike dele van sy genesingsproses bly.

’n Goeie vriend, Jaco Prinsloo, eienaar van Motorcycle Tours Africa, het die res van die reis namens Kilian voltooi en op 13 Maart by Kapstadt Brauhaus aangekom ter ere van die tog wat Kilian begin het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.