On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Tweeling lok mense van oral in SA vir feesviering

───   SUSAN MARÉ 14:19 Tue, 12 May 2026

Tweeling lok mense van oral in SA vir feesviering | News Article
Tweeling se NG gemeente het onlangs sy eeufees gevier. Foto verskaf

Die beskeie dorpie Tweeling in die Oos-Vrystaat op die R26 tussen Frankfort en Reitz het onlangs uit sy nate gebars toe lankvergete mense daar saamgekom het.

Die geleentheid was die plaaslike NG gemeente se eeufeesviering, ’n naweekreünie wat ’n spogete ingesluit het, en ’n Saterdagbasaar. Oudinwoners van Tweeling het uit al die provinsies, Namibië en selfs van Engeland gekom om ná dekades weer met mekaar te kuier.

Tweeling is tussen 1918 en 1920 (bronne verskil) op die plase Tweelingspruit en Tweelingkop gestig. Die dorp is in die Riemlandstreek geleë en word deur ’n kragtige landbougemeenskap gerugsteun wat ’n bestaan voer uit skape, beeste, mielies en sonneblomme.

Interessant is dat die naam van die woonbuurt Mafahlaneng ook na die twee koppe verwys en “plek van die tweeling” beteken. Suid-Sotho (sowat 45%) en Afrikaans (sowat 36%) is die hooftaalgroepe van die dorp en omgewing.

Die NG kerk Tweeling – 100 jaar oud. Foto verskaf

Die NG gemeente is op 17 Junie 1926 afgestig, hoofsaaklik van ’n groot deel van Frankfort en Reitz en ’n deeltjie van Vrede. Die kerk was deur al die dekades tot nou ’n besonderse middelpunt van belangstelling.

Die feesdiens is gelei deur ds. Johan Lessing (78), wat die afgelope drie jaar daar predikant is. Hy is een van drie predikantbroers wat op Tweeling gebore en getoë is en al drie kon daar wees.

Van die bekendes wat daar was, was Jan Hendrik Viljoen, oftewel die kunstenaar Portchie van Stellenbosch. Tweeling het in sy bestaan mense gelewer wat in alle fasette van die samelewing presteer en hoogtes bereik het.


Nog bekendes met ’n Tweeling-oorsprong is wyle prof. Johan Heyns, die NG moderator wat in ’n sluipmoordaanval om die lewe gebring is, wat op die plaas Bloemkraal grootgeword het. Heyns was tot in st. 3 (gr. 5) in Tweeling, waarna sy ouers na Potchefstroom verhuis het.

Die Vrystaat se sesde premier, Sisi Ntombela, kom ook van Tweeling, asook die SA langafstandatleet Pakiso Mthembu, wat in 2019 die Universiteit van die Vrystaat se sportman van die jaar was. Hy het ook die Benedictus Kok-medalje gewen vir sy plek onder die 100 topatlete ter wêreld.

Die Hoërskool Tweeling (nou die Gekombineerde Skool Tweeling) was dekades lank bekend as ’n puik skool en het skoliere en landburgers opgelewer wat in hul volwasse lewens in alle moontlike vakterreine presteer het.

Die distrik Tweeling se boere met hul gehalte-boerdery word hoog aangeskryf in die landbouwêreld en Vrystaat Koöperasie Beperk (VKB Group) met sy hoofkantoor op Reitz, het steeds ’n tak en silo’s op die dorp.

Die Lessings was een van die bekende families wat drie predikantseuns in die NG Kerk opgelewer het. Foto verskaf

Deon van der Watt, hooforganiseerder van die fees en reünie, sê 164 mense het die fees-ete bygewoon en daar was die Sondag sowat 255 mense in die kerk.

Die Van der Watts is een van die oudste families van Tweeling. Die Lessings was ook een van die bekende families wat drie predikantseuns in die NG Kerk opgelewer het.

Johan Lessing se broers is Koos (83) en Dawid (82). Nog ’n teoloog, advokaat en voormalige aktuaris van die Algemene Sinode van die NG Kerk wat sterk bande met Tweeling en die omgewing het, is dr. Dewyk Ungerer.

Van der Watt sê die oorspronklike kerkgebou, pastorie sowel as ’n kerk in die woonbuurt by die dorp is al drie omstreeks 1927 gebou.

Portchie Viljoen saam met sy laerskoolklasmaats. Foto verskaf

Portchie sê die besoek aan Tweeling was vir hom besonders. Hy was die seun van ’n groenteboer en het die gebou besoek waar sy ouers lank gelede winkels gehad het. Hy het ook sy ouerhuis besoek.

Vandag is Portchie een van Suid-Afrika se suksesvolste kunstenaars en gewild vir sy helderkleurige skilderye in style van impressionisme en ekspressionisme, maar hy sê hy sal nooit vergeet waar hy vandaan gekom het nie.

Dit was vir hom lekker om sy ou maats weer te sien en hy het ook lekker saam met Alida Enslin van Ermelo wat sy Sub. B-klasonderwyser was, gekuier.

Lessing sê hy sal graag nou die kringloop van 78 jaar wil voltooi: van Tweeling tot Tweeling. “Die reünie was ’n geleentheid om ou bande van vriendskap op te skerp en daar is selfs nuwes gesmee.”

Deon van der Watt, hooforganiseerder van die feesviering in Tweeling, en Portchie Viljoen. Foto verskaf

Nog ’n oudinwoner wat besonderse bande met Tweeling het, is Cora de Wet (née Van der Merwe), dogter van wyle Frans en Tillie van der Merwe.

De Wet sê die reünie op Tweeling was vir haar soos ’n pelgrimstog: “My lewenskring het daar begin en die basis van my menswees is daar gelê. In daardie kerk het ek die Here in die Kinderkrans leer ken. Ek kon vriende wat my help vorm het weer daar sien. So dankbaar dat hulle nog in my lewe is.

“Net die een groot vriendin en my suster is reeds oorlede. Dit bly ’n groot verlies in my lewe. Tweeling is ’n sirkel wat amper voltooi is en het bevestig wie ek is, en wie en wat my pa en ma in die gemeenskap was. Ek het met dankbaarheid bewus geraak van my wortels.”

Intussen het die dorpie Tweeling weer rustig geword. Baie voertuie ry daagliks en snags op die R26 daar verby en die dorp word nie eens altyd raakgesien nie.

“Tweeling is die poort na Clarens,” het Lessing skalks opgemerk. “Die mooi van Clarens begin al hier.”

In 2026 kry die meeste inwoners van Tweeling swaar weens werkloosheid en armoede. Die twee heuwels, Tweelingspruit en Tweelingkop, is egter nog daar en sal baie stories kan vertel van mense wat in hul skaduwees gewoon en geleef het.

En so skitter hierdie Riemlandse dorp in sy omgewing van skoonheid met sy uitgestrekte hoëveldse grasvelde naby die Liebenbergsvleirivier en hope geleenthede vir jag, hengel, motorfietsry, polocrosse-perdry en die besigtiging van San-rotskuns.

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.