On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Voormalige Vrystaatse spoorwegwerker sterf in huisbrand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:12 Tue, 12 May 2026

Voormalige Vrystaatse spoorwegwerker sterf in huisbrand | News Article
Pottie Potgieter. Foto Facebook

’n Nadoodse ondersoek is aan die gang nadat ’n afgetrede spoorwegwerker in Bloemfontein in ’n huisbrand gesterf het.

Pottie Potgieter (65) het Maandag (11/5) gesterf toe sy huis in die voorstad Fauna aan die brand geslaan het. Sy liggaam is later in die slaapkamer gekry. Potgieter het alleen saam met sy hond gewoon.

Die brandweer is om 02:02 in kennis gestel van die brand by ’n huis in Lechwelaan en het binne 10 minute op die toneel aangekom, sê Braam van Zyl, afdelingshoof van Mangaung se brand-en-reddingsdiens. ’n Brandweerwa, ’n watertenkwa en agt brandbestryders is ontbied.

Die dak van die huis het ingeval. Foto Mangaung-metro se brandweer-en-reddingsdiens

“Toe (hulle) opdaag, was die brand reeds in ’n gevorderde stadium. Bure het nooddienste in kennis gestel dat ’n man en sy hond nog binne die huis is. Die brand het in die slaapkamer begin en ’n deel van die dak het reeds ineengestort.”

Brandbestryders het onmiddellik begin om die vlamme te probeer blus terwyl ’n ander span die huis vir inwoners deursoek het, sê Van Zyl. “ ’n Hond is in die vertrek die verste van die brand gevind. Hy het nog geleef en is gered.”

Die dele van die huis wat in die brand verwoes is, is nie van die pad af sigbaar nie. Foto Charne van der Merwe

Noodspanne moes eers puin van die ineengestorte dak verwyder voordat hulle Potgieter se liggaam gevind het. Hy is op die slaapkamervloer aangetref.

“ ’n Gassilinder in die kamer het na bewering ontplof, hoewel dit onbekend is of die ontploffing die brand veroorsaak het of weens die brand (ontplof) het.”

Van Zyl sê die brand is binne ’n uur onder beheer gebring. Sowat 13 000 L water is gebruik.

Beamptes van die Parkweg-polisiekantoor se eenheid vir sigbare polisiëring was op patrollie toe hulle omstreeks 01:55 swaar rook gewaar het, sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Die slaapkamer en badkamer is heeltemal in puin gelê. Die kombuisplafon is ook deur die brand beskadig.”

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek ná die voorval geopen.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.