Central SA
Niks fout met Orania-grondeis, bevind ondersoekeenheid─── MORNÉ VAN ROOYEN 15:52 Wed, 13 May 2026
Daar was geen geen onreëlmatighede in die hantering van die Orania-grondeis nie.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in ’n ondersoek na die eis, wat in 2006 afgehandel is, bevind geen verdere optrede kan geregverdig word nie. Dit het Woensdag (13/5) uit ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor grondhervorming en landelike ontwikkeling aan die lig gekom.
Die portefeuljekomitee het die SOE vroeër versoek om verslag te lewer oor alle ondersoeke rakende die restitusie van grond, sê dr. Wynand Boshoff, VF-woordvoerder oor grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Orania is ’n nedersetting aan die Oranjerivier in die Noord-Kaap. Foto: Morné van Rooyen
Een van die eise, wat blykbaar vir verdere ondersoek na die SOE verwys is, was die 2005-eis van voormalige inwoners van Orania wat in 1991 moes trek toe die destydse departement van waterwese die grond verkoop het.
Hoewel die sowat 90 eisers nooit grond in Orania besit het nie, het hulle aangevoer dat hulle verskuiwing wel aan die vereistes vir restitusie voldoen. Die gemeenskap van Orania was nie ’n party tot die eis nie, aangesien die dorp eers agterna in besit van die grond gekom het.
Die eis is met finansiële vergoeding geskik en is dus afgehandel. Dit is later blykbaar na die SOE verwys om vas te stel of alles reëlmatig gedoen is.

Die gemeenskap van Orania was nie by die eis betrokke nie; dit was oudinwoners. Foto: Morné van Rooyen
Die VF Plus maak daarop staat dat die voorstanders van grondhervorming hul aandag voortaan sal toespits op die departement en sy gebreke, sê Boshoff. “Orania, op sigself ’n voorbeeld van gemeenskaplike grondbesit en gemeenskapsgedrewe ekonomiese ontwikkeling, kan eerder genader word om ander gemeenskappe te help om soortgelyke doelwitte te bereik.”
Die VF Plus bly verbind tot die bepalings van artikel 235 van die Grondwet en die vergestalting daarvan in gemeenskappe soos Orania, sê Boshoff.
Intussen beskryf Boshoff die verslag, wat Woensdag voorgelê het as “verdoemend”. Dit getuig van korrupsie en onbevoegdheid, wat lei tot onreëlmatige grondherstel.
“Dit dui daarop dat dit nie die proses van ‘gewillige koper gewillige verkoper’ is wat restitusie ondermyn nie, maar die departement self, meen Boshoff. “Die ondersoeke is kragtens vyf proklamasies uitgevoer, van 2011 tot 2017.
“Opgesom, is meer as R654 miljoen se kontrakte en/of administratiewe besluite ter syde gestel of ongeldig verklaar en 611 verwysings na die nasionale vervolgingsgesag het gevolg. Kontant en/of bates van meer as R306 miljoen is herwin, terwyl potensiaal vir R250 miljoen se herwinning bestaan.”
’Gevestigde rolspelers in die landbousektor is dus nie die probleem nie’
Die SOE noem ses faktore wat tot die stelselwye korrupsie lei: oneerlike amptenare, swak rekordhouding, ondoeltreffende stelsels, gebrek aan beheer oorsig en bestuur, gebrek aan verifikasieprosesse en gewetenlose regslui.
“Die enigste hiervan wat buite die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling is, is gewetenlose regslui,” sê Boshoff, wat tydens die komiteevergadering daarop gewys het dat dit duidelik is dat hierdie gegewens enige hoop op suksesvolle restitusie ondermyn.
“Ander sondebokke wat soms met groot emosie uitgewys word, soos gevestigde rolspelers in die landbousektor, is dus nie die probleem nie. Die grondkwessie is ’n politieke saak wat sterk emosies gaande maak.”
LEES OOK: Optog teen Orania wys minderhede moet mobiliseer – VF Plus
Die MK-party is juis besig met ’n poging om die afsnypunt vir restitusie van grond van 1913 na 1652 terug te skuif, sê Boshoff. “Ongeag ’n mens se siening van die geskiedenis, is dit duidelik dat die departement nie met enige restitusie vertrou kan word nie.”
Die grondvraag in Suid-Afrika kan slegs geskik word as die toepaslike departement oor die nodige vermoë beskik, meen hy, as voedselsekerheid nie in gedrang kom nie en as Afrikaners en ander inheemse minderhede wat nog nie erkenning geniet nie, se status in Suid-Afrika erken en deel van die skikking oor grond word.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

