On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sixty60 verras geliefde juffrou met spesiale 60ste verjaardagviering

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:42 Thu, 14 May 2026

Sixty60 verras geliefde juffrou met spesiale 60ste verjaardagviering | News Article
Belinda en die bromponiebestuurder. Foto verskaf

Checkers se Sixty60-bromponies op pad om kruideniersware by huise af te lewer is ’n bekende gesig in baie dorpe en stede.

Maar onlangs was hul bestemming veel meer besonders: ’n skooltjie om die 60ste verjaardag van ’n geliefde onderwyseres te vier.

In plaas van kruidenierswarebestellings was die bekende bruin papiersakke gevul met lekkernye en verrassings. Hulle het gehelp om Belinda Harm, ’n onderwyseres aan die Preprimêre Skool Woel en Werskaf in Potchefstroom, se mylpaalviering onvergeetlik te maak.

Harmse, wat Vrydag (8/5) haar 60ste verjaardag gevier het, sê die verrassing het haar diep geraak. “Ek is altyd verstom oor hoeveel moeite die ouers doen. Jy weet jy word waardeer en liefgehê, maar dit was besonders. Ek is so geseënd.”

Sy is reeds 38 jaar in die onderwys en werk al 20 jaar by Woel en Werskaf. “Hierdie is soos onderwyshemel. Almal wat my ken, weet ek is baie gelukkig hier.

Belinda Harmse by haar klas. Foto verskaf

“Die liefde van die kinders in my klas bly die grootste beloning. Dit is my veilige hawe hier by Woel en Werskaf.” Die drukkies wat sy van haar leerders ontvang, is die “brandstof” wat haar elke dag aan die gang hou, voeg sy by.

Sy het reeds op tien geweet sy wou ’n juffrou word. Sy het haar loopbaan in die senior primêre fase begin, voordat sy na gr. 1 geskuif het, waar sy 16 jaar lank onderrig het. Sy werk nou al twee dekades met die jongste leerders.

Die kinders het ook volgens tema aangetrek. Foto verskaf

Harmse sê haar 60ste verjaardagvieringe het oor ’n hele week gestrek: Die feestelikhede het die naweek voor haar verjaardag begin tydens ’n spesiale wegbreek na Buffalo Bay saam met haar dogters – een van haar gunstelingbestemmings.

“Die vieringe was werklik onvergeetlik. Ek voel ongelooflik dankbaar teenoor almal wat uit hul pad gegaan het om my verjaardag so betekenisvol en spesiaal te maak.”

Die gedagte aan aftrede op 65 maak haar emosioneel. “My keel trek toe as ek dink daar is net vier jaar en vyf maande oor in hierdie wonderlike beroep. Dis my roeping: om elke dag voor ’n klas vol kinders te kan staan, is ’n voorreg en ’n seën.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.