Central SA
Noordwes-moordbeskuldigdes se borgtogaansoek gaan dan voort─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:22 Mon, 18 May 2026
Die borgtogaansoek van die vyf verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n Noordwes-egpaar vermoor het, sal Dinsdag (19/5) voortgaan.
Smanga Aron Saulo (37), Tebogo Vincent Kolea (31), Gofaone Ronald Sekobe (27), Gaofengwe Sekobe (21) en Clifford Sekobe (34) het Vrydag (15/5) in die Mmabatho-landdroshof voorgekom. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Sergio en Marlene Gomes van Mahikeng is Vrydag 24 April tydens ’n gewapende rooftog in hul slaghuis in Golf View noodlottig aangeval, sê sers. Kelebogile Morake, Noordwes-polisiewoordvoerder. Marlene is op die toneel dood verklaar, terwyl Sergio later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.
Die beskuldigdes is op 29 en 30 April in hegtenis geneem in verband met die wrede moord.

Sergio en Marlene Gomes van Mahikeng. Foto: Facebook
Morake sê die polisie het op ’n noodoproep gereageer wat ’n skietery in die Golf View-gebied op die dag van die voorval aangemeld het. “Met hul aankoms het beamptes bloedvlekke op die sypaadjie gevind en die liggaam van Marlene op die grond ontdek.”
Die egpaar het blykbaar van hul huis na die slaghuis gehaas nadat hulle inligting ontvang het dat hul seun beroof word. “Toe hulle by die perseel aankom, het hulle die rowers by die ingang teëgekom,” sê Morake.
Die verdagtes het die slaghuis binnegegaan en die slagoffers gedwing om op die vloer te lê. Hulle het hulle gedreig en aangerand. Klante wat binne die winkel was, is ook tydens beroof.

Sergio en Marlene Gomes. Foto: Facebook
Die rowers het na bewering verskeie selfone, kontant, ’n skootrekenaar en die sleutels van ’n Ford Ranger gesteel, wat hulle as ’n ontsnappingsvoertuig gebruik het, het kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die voertuig is die volgende dag verlate in die Magogwe-nedersetting naby Mahikeng teruggevind. Van die gesteelde selfone is in ’n nabygeleë veld ontdek,
“Talle items wat met die rooftog verband hou, is sedertdien teruggevind, maar slegs ’n paar van die slagoffers wat tydens die voorval beroof is, het na vore gekom. Slagoffers word aangemoedig om die saak aan te meld deur hul naaste polisiekantoor te kontak.”
Enigiemand met inligting word versoek om die Noordwes-polisie se moord-en-roofeenheid te kontak of kol. Kgosi Dihemo by 082 773 0630. Hulle kan ook hul naaste polisiekantoor in kennis stel, Stop Misdaad by 08600 10111 bel of wenke deurgee op die MySAPS-app.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

