Central SA
Noordwes-man se moordverhoor hervat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:10 Mon, 18 May 2026
Die verhoor van ’n man van Noordwes wat beskuldig word van moord ná ’n voorval op ’n parkeerterrein sal Maandag (18/5) ná byna vier maande hervat word.
Wernich Botha se verhoor sal na verwagting vir vier dae in die Klerksdorp-streekhof voortduur. Botha staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord.
Hy het na bewering die dood van Hilton Pretorius veroorsaak en die sakeman PW Roos tydens die voorval aangerand.
Die saak is reeds twee keer uitgestel. Die verhoor sou aanvanklik op 2Februarie hervat het nadat die verrigtinge in Augustus uitgestel is. Botha se regsverteenwoordiger, Hennie du Plessis, het nie in die hof verskyn nie weens wat as ’n misverstand beskryf is.
Die saak is egter weer in Februarie uitgestel nadat die landdros weens persoonlike omstandighede nie die hof kon bywoon nie.

Natasha van der Merwe in die getuiebank. Foto: Charne van der Merwe
Hilton Pretorius se ma, Linday Mey, sê die herhaalde vertragings was moeilik vir die familie, hoewel hulle die hofproses respekteer. “Die uitstel pla ons, maar ons respekteer die hof se reëlings en bly dankbaar vir almal se betrokkenheid en ondersteuning, wat ons vandag nog saam met ons dra.”
Die familie worstel steeds met die verlies van Pretorius, sê Mey. “Niemand verstaan werklik waardeur ons familie gaan nie. Die een persoon wat ons bymekaar gehou het, wat altyd sy tyd vir almal opgeoffer het, is dood en weg.”
‘Hartseer is altyd naby’
“Nooit weer sal ek my kind kan vashou nie. Nooit weer sal jy langs die rugbyveld staan en jou kind aanmoedig nie.”
Die familie probeer mekaar deur die pyn ondersteun. “Ons probeer mekaar versterk en by mekaar staan, maar die hartseer is altyd naby. Ek besef dat niks Hilton kan terugbring na ons almal wat hom so diep liefgehad het nie.”
Pretorius laat twee laerskoolkinders agter, wat by hul ma, sy eksvrou, woon. “Hy sal nooit weer saam met hulle kan sit en ’n baba-cappuccino drink nie,” het Mey vroeër gesê.
In die voorval op 1 September 2023 buite Cadillac se 60s Pub in Doringkruin, Klerksdorp, het Pretorius ernstige kopbeserings opgedoen. Roos het ’n skouerbesering opgedoen. Die vuishou van Botha het na bewering 18 dae later tot Pretorius se dood gelei.
Die rusie het ontstaan toe Botha vir Pretorius saam met sy destydse meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), in sy huis aangetref het. Van der Merwe was voorheen in ’n verhouding met Pretorius.
Botha ontken enige oortreding en beweer hy het uit selfverdediging opgetree. Hy ontken ook die aanklag van poging tot moord en beweer Roos het hom eerste geslaan.

Hilton Pretorius het ernstige kopbeserings opgedoen en is 18 dae ná die voorval in September 2023 oorlede. Foto: Facebook
Botha kan slegs met tussenposes van drie maande hofverrigtinge bywoon as gevolg van sy werk as ’n onderhoudswerker by ’n kamp in Somalië. Hy werk daar vir drie maande op ’n slag voordat hy vir drie weke na Suid-Afrika terugkeer.
Tydens die verhoor in Mei het Natasha getuig Botha het onverwags op 1 September uit Somalië teruggekeer en Pretorius by haar huis gekry. Sy en Pretorius was voorheen in ’n verhouding.
Volgens haar getuienis het Botha Pretorius aangerand terwyl hy geslaap het, wat gelei het tot ’n konfrontasie wat in die straat en later by die kroeg, waar die noodlottige voorval plaasgevind het, voortgeduur het.
Van der Merwe het verder getuig Pretorius het honderde boodskappe aan haar gestuur waarvan sy sommige as dreigend beskryf het.
Botha het uit selfverdediging opgetree en probeer om hulp aan Pretorius te verleen ná die aanranding terwyl hulle vir ’n ambulans gewag het, het sy volgehou.
Botha is kort ná die voorval in hegtenis geneem en is later op borgtog van R2 000 vrygelaat. Caswell Ntoyi tree as aanklaer op, terwyl Kobus Burger en Hennie du Plessis Botha se verdediging behartig.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel ofwhatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


