Central SA
Naka, vriend soek bewyse ná miljoene se skadevergoedingseis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:22 Mon, 18 May 2026
Die Bloemfonteinse man wat ’n voormalige Springbok-rugbyspeler vir miljoene dagvaar nadat hy glo groot geld verloor het weens ’n beweerde stryery en aanranding, sal bewyse moet lewer om sy bewerings te staaf.
Vivian de la Hunt, buurman van Naka Drotské, het ’n siviele skadevergoedingseis van meer as R9 miljoen teen die oudafrigter van die Cheetahs en sy vriend Lionel Palmer ingedien. Dit spruit uit ’n rusie in September 2024.
De la Hunt se weergawe is dat Drotské en Palmer hom op 14 September 2024 omstreeks 20:30 by sy huis in die Bloemfonteinse voorstad Pentagon Park aangerand het. Luidens die akte van beskuldiging het Drotské en Palmer hom geskop, met die vuis geslaan en sy gesig deur die grond gesleep.
De la Hunt het ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer teen die twee vriende aanhangig gemaak. Hy is glo so erg beseer dat hy aansienlike geldelike verliese ly.

Vivian John de la Hunt en Mary-Ann Bell van C Diedericks Attorneys Inc. Foto: Charne van der Merwe
Die aanloop was glo opmerkings oor Drotské se vrou, Marzanne, wat ’n konfrontasie tussen die partye veroorsaak het. Drotské en Palmer is die volgende dag in hegtenis geneem en het later in die hof verskyn, waar hulle op eie verantwoordelikheid vrygelaat is.
Drotské en Palmer ontken in pleitstukke die bewerings teen hulle. Hulle verwerp in hofstukke die aantyging dat hulle “De la Hunt onwettig en opsetlik aangerand het deur hom teen die grond vas te druk en hom herhaaldelik te slaan”, en betwis sy weergawe van die gebeure.

Naka Drotské. Foto: Getty Images
Die verdediging voer aan dit was De la Hunt wat hulle aangerand het deur die twee tydens die konfrontasie in die gesig te slaan.
De la Hunt eis skadevergoeding insluitend meer as R4,8 miljoen vir toekomstige verlies aan inkomste, meer as R2,3 miljoen vir toekomstige mediese behandeling, R2 miljoen vir algemene skade, R522 000 vir vorige verlies aan inkomste, en meer as R28 400 vir mediese uitgawes.
“Ons is vol vertroue dat die siviele aksie nie sal slaag nie,” sê Adriaan Janse van Rensburg, Drotské en Palmer se regsverteenwoordiger.
Hy het ook bevestig ’n kennisgewing is reeds ingedien by die hof dat die eis teengestaan word.
Volgens Janse van Rensburg is die wedersydse strafregtelike aanklagte teen albei kante in Oktober 2024 teruggetrek nadat ’n bemiddelingsproses afgehandel is. “Geen van die partye het vergoeding in hierdie ooreenkoms ontvang nie.”
As deel van die skikkingsooreenkoms wat toe bereik is, word ook van die partye vereis om die bepalings streng vertroulik te hou en dit nie aan enige derde party bekend te maak nie.
Die beskermingsbevele wat voorheen deur Drotské en De la Hunt teen mekaar verkry is, is nou finale hofbevele.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

