On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Leerders en veterane herdenk geskiedenis tydens oorlogsgrafteweek

───   REFILWE BEKANE 15:00 Tue, 19 May 2026

 Leerders en veterane herdenk geskiedenis tydens oorlogsgrafteweek | News Article
Die Hamilton-begraafplaas in Bloemfontein neem deel aan oorlogsgrafteweek. Foto: Statebond-oorlogsgraftekommissie

Suid-Afrika se militêre bydraes tydens albei Wêreldoorloë word vandeesweek in oorlogsgrafteweek belig op twee gedenkgeleenthede in die Hamilton-begraafplaas in Bloemfontein.

Caryl Kolk, sê die kommissie beywer hom daarvoor om Suid-Afrika se diepgaande en dikwels misgekykte bydrae tot dié konflikte te beskerm. Daarom bied die kommissie die geleenthede aan om dié geskiedenis te beklemtoon.

Plaaslike gemeenskappe word so direk met die wêreldgeskiedenis verbind.

Die formele byeenkoms sluit in ’n amptelike kransleggingseremonie. Foto: Statebond-oorlogsgraftekommissie

Skoolkinders word Dinsdag (19/5) by die Hamilton-begraafplaas opgevoed hieroor, terwyl ’n formele herdenkingsdiens Donderdag (21/5) hier aangebied word.

Drie plaaslike skole is betrokke by die eerste geleentheid vanaf 09:30 tot 12:00 wanneer gassprekers optree en ’n interaktiewe speletjie aangebied word oor mense uit die geskiedenis. Die leerders sal leer oor die kommissie, die geskiedenis van die begraafplaas en die toekomstige versorging van die terrein.

Die tweede geleentheid, Donderdag, vanaf 09:30 tot 12:00, behels ’n formele program met lede van die plaaslike MOTH’s, veterane en sprekers van plaaslike museums.

Die Hamilton-begraafplaas in Bloemfontein is deel van oorlogsgrafteweek. Foto: Statebond-oorlogsgraftekommissie

“Hierdie begraafplaas bevat 83 Statebond-oorlogsgrafte wat oor albei Wêreldoorloë strek. Dit sluit in 62 grafte uit die Tweede Wêreldoorlog en 21 grafte uit die Eerste Wêreldoorlog,” sê Kolk.

Luidens geskiedkundige gegewens is daar 29 grafte uit die Tweede Wêreldoorlog van Suid-Afrikaanse leër-personeel wie se oorskot in die 1970’s vanaf ’n begraafplaas vir anderskleuriges verskuif is. 

Die oorskot van elf gesneuweldes van die Eerste Wêreldoorlog is in 2005 vanaf die voormalige Rooidam-begraafplaas vir anderskleuriges verskuif  en herbegrawe, en nog tien mense se lewe word  op spesiale gedenktekens herdenk omdat hul grafte nie opgespoor kon word nie.

Die grafte behoort aan lede van die sogenaamde Suid-Afrikaanse Naturelle-werkerskorps, die Koninklike Lugmag se reserwe-troepe, die Suid-Afrikaanse lugmag, die algemene dienskorps, die Indiese en Maleisiese korps, en die Suid-Afrikaanse geniekorps, en hou verband met onder meer lugmagopleiding, die Tempe- militêre basis en die oorlogspoging van die breër Statebond.

Die formele byeenkoms sluit in  ’n amptelike kransleggingseremonie, aanbiedings oor die geskiedenis van die kommissie en vertellings oor die mense wat op die terrein begrawe is.

Die kommissie beskik oor geskiedkundige inligting en is betrokke by bewaringsprosesse en die instandhouding van meer as 1,7 miljoen grafte wêreldwyd.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.