On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse ongelukslagoffer se naasbestaandes steeds soek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:28 Tue, 19 May 2026

Noord-Kaapse ongelukslagoffer se naasbestaandes steeds soek | News Article
Die Noord-Kaapse polisie is op soek na familielede van Andile Cingo, wat in ’n motorongeluk oorlede is. Foto: SAPD

Die Noord-Kaapse polisie is op soek na familielede van ’n man wat middel verlede jaar in ’n motorongeluk oorlede is.

Die Delportshoop-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag ná die dood van Andile Cingo (38). Hy is na bewering deur ’n vragmotor op die R31-pad tussen Koopmansfontein en Daniëlskuil getref, sê ao. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Cingo, wat op 27 Julie 2025 omstreeks 19:00 dood is, se liggaam is steeds nie by die staatslykshuis opgeëis nie. Daar word vermoed hy het familie in Daniëlskuil, Postmasburg, Lusikisiki, Bizana of Springs.

Foto’s van die oorledene is beskikbaar gestel om met identifikasie te help, en die polisie doen ’n beroep op enigiemand wat hom herken of sy familie ken om na vore te kom.

Andile Cingo. Foto SAPD

Lede van die publiek met inligting wat kan help om sy familie op te spoor, word versoek om die Delportshoop-polisie of die ondersoekbeampte, ao. Jim Williams, te nader by 073 465 2104 of 060 972 3270, of die Stop Misdaadnommer, 08600 10111 bel. Wenke kan ook op die MySAPS-app deurgee word.

Die polisie het die publiek ook daaraan herinner dat daar geen wagtydperk is voordat ’n vermiste persoon aangemeld kan word nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:

  • Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
  • Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aangehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
  • Vul die polisie se 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
  • Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
  • As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. Die polisie se 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se geval uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.