On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Jong man van Bloemfontein red verskeie lewens ná ongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 16:05 Tue, 19 May 2026

 Jong man van Bloemfontein red verskeie lewens ná ongeluk | News Article
Deon van der Berg. Foto verskaf

Twee mense van Bloemfontein het reeds Dinsdag (19/5) ’n man van die stad se niere ontvang. Sy hart is na Kaapstad gestuur om ’n vrou se lewe te red. Sy lewer is ook verdeel om twee kinders ’n tweede kans op lewe te gee.

Deon van der Berg (29), ’n chemiese ingenieur, is Maandag (18/5) in die Mediclinic Bloemfontein oorlede nadat hy breindood verklaar is. Sy familie het daarna besluit om sy organe te skenk – ’n besluit wat reeds verskeie lewens verander het.

Sy pa, Danie van der Berg, sê die familie probeer steeds verwerk hoe vinnig alles gebeur. Deon, wat verlede jaar sy graad voltooi het, sou binnekort na Duitsland verhuis om saam met sy broer, Leon (31), te woon en in die buiteland te werk. Leon woon reeds die afgelope vyf jaar oorsee.

Hy sê dit is onduidelik wat presies die ongeluk Vrydag (15/5) veroorsaak het. Die ongeluk het glo op ’n skerp draai naby Mimosa Mall plaasgevind. Deon, wat met ’n Nissan Qashqai gery het, het vermoedelik die draai gemis, reguit aangery en teen ’n lamppaal gebots.

Deon van der Berg sou binne die volgende paar maande in Duitsland gaan werk het. Foto verskaf

Die laaste keer wat Danie sy seun gesien het, was slegs ’n paar uur voor die ongeluk. Deon het die vorige aand by sy ouerhuis gekuier en oor ’n spasma in sy rug gekla, waarna sy ma, Susan, vir hom medikasie gegee het.

“Vrydagoggend vroeg het hy sy ma gebel en gesê hy het sleg geslaap. Hy het haar gevra om hom om 10:00 wakker te bel. Toe sy hom later nie in die hande kon kry nie, het ek na sy huis gegaan.

“Ons het nog saam gesels oor sy planne vir Duitsland. Min het ek geweet dit sou die laaste keer wees wat ek my kind sien,” vertel Danie emosioneel.

Deon van der Berg word beskryf as iemand wat altyd die beste vir ander mense wou hê. Foto verskaf

Die dokters het Saterdagoggend die familie meegedeel dat Deon breindood verklaar is. Hoewel hulle Sondag dieselfde nuus ontvang het, het die familie steeds vasgehou aan die hoop op ’n wonderwerk.

Hulle het egter Maandag “die moeilikste besluit van hul lewe geneem” en die masjiene afgeskakel. “Geen ouer wil ooit hoor dat hul kind nie weer gaan wakker word nie. Ons het tot die heel laaste oomblik gehoop,” sê Danie.


Sy ouers het Dinsdag vir Leon by die lughawe in Bloemfontein gaan haal. Dit was ongelooflik swaar om vir hul oudste seun te vertel dat sy broer oorlede is, aangesien die twee ’n baie hegte band gehad het.

Deon was ’n oudleerling van die Hoërskool Sand du Plessis. Hy het een keer per jaar vir Leon in Duitsland gaan kuier.

“Een van my kosbaarste herinneringe is hoe my seun reeds van st. 1 (gr. 3) af deel van die skoolkoor was. “Ek was altyd trots om hom daar te sien. Hy was nog altyd iemand wat lig gebring het waar hy gegaan het.” 

Dinsdag om 07:00 het die familie by die Mediclinic Bloemfontein in die hospitaalgang gestaan toe Deon op sy bed na die teater geneem is waar sy organe verwyder sou word vir oorplantings.

Die besluit om sy organe te skenk was maklik, omdat sy seun altyd ander wou help, sê Danie. “Hy was die tipe mens wat alles vir ander sou gee. Nou doen hy dit nog steeds, selfs al is hy nie meer hier nie.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.