On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kommer oor geweld en bendebedrywighede by Noord-Kaapse skool

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:21 Thu, 21 May 2026

Kommer oor geweld en bendebedrywighede by Noord-Kaapse skool | News Article
Skermskoot van een van die voorvalle. Foto verskaf

Talle leerders van ’n Noord-Kaapse skool is geskors hangende die uitkoms van tugverhore ná ’n vlaag voorvalle toe ’n onderwyser selfs met ’n mes gedreig is.

Die provinsiale onderwysdepartement is bekommerd oor die veiligheid van die leerlinge en onderwysers aan die Hoërskool Wrenchville op Kuruman. Die probleme word blykbaar aangevuur deur bendebedrywighede en ’n minagting vir die skool se gedragskode, sê Geoffrey van der Merwe, onderwyswoordvoerder.

Distriksamptenare het die skool besoek en die situasie onder beheer gebring wat die afgelope week handuit geruk het, waarna normale onderrig hervat het. Die polisie was teenwoordig om die situasie dop te hou en stabiliteit by die skool te verseker.

“Die departement het ook die polisie versoek om lukrake en onaangekondigde deursoekings by die skool uit te voer as deel van pogings om veiligheidsmaatreëls te versterk.”

Van der Merwe sê die welstand van leerders en onderwysers bly ’n topprioriteit, aangesien ’n veilige omgewing noodsaaklik is vir effektiewe onderrig en leer

“ ’n Dringende vergadering met die departement, ouers en die polisie is geskeduleer om die saak aan te spreek en moontlike intervensies te bespreek.”

Sharifa Minnie. Foto Facebook

Die departement vra voorts die skoolgemeenskap moet saamwerk om dissipline te herstel en ’n veilige en bevorderlike leeromgewing te skep.

Sharifa Minnie, Noord-Kaapse PA-leier, sê die skool loop al maande deur onder geweld wat blykbaar verband hou met bendebedrywighede. “Hoewel die situasie op ’n stadium bedaar het, het geweld verlede week weer uitgebreek.”

“Wat het van ons as ’n samelewing geword wanneer onderwysers klaskamers in vrees in plaas van (met) selfvertroue binnestap?” wil sy weet. “Skole is bedoel om plekke van leer, dissipline en veiligheid te wees – nie omgewings waar chaos en geweld genormaliseer word nie.”

Baie seuns het ’n verwronge begrip van manlikheid ontwikkel. Sy sê en beklemtoon ingryping moet tuis begin, waar ouers ’n sterker rol moet speel in die herstel van dissipline en aanspreeklikheid.

“Ons kan nie aanhou om ’n stelsel te skep waar van onderwysers verwag word om onder onmoontlike toestande te presteer terwyl hulle onbeskermd en in die steek gelaat voel nie,” sê Minnie nadat ’n onderwyser glo met ’n mes gedreig is.

“As onderwysers gesag, respek en veiligheid in klaskamers verloor, ly die hele onderwysstelsel daaronder. Dringende ingryping is nodig, nie net by Wrenchville (nie), maar ook by ander skole wat soortgelyke uitdagings met betrekking tot geweld, intimidasie en wetteloosheid het.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.