Central SA
Vioolsdrif-moorde: Verdediging sê getuie vertel leuens─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:24 Thu, 21 May 2026
Die hoofgetuie in die Vioolsdrif-moordverhoor is in die hof daarvan beskuldig dat hy nie die waarheid vertel het nie oor belangrike besonderhede rakende die skietery in Oktober 2023.
Tydens hofverrigtinge in die rondgaande hooggeregshof op Springbok Woensdag (20/5) het die verdedigingsadvokaat Coenraad de Beer jr. uitgevra oor verskille in sy storie. Vrae is gevra oor sy gebruik van drank en dagga op die aand van die skietery.
De Beer het na bewering dele van sy getuienis uit sy duim gesuig oor wat op 31 Oktober 2023 op Japie Claassens se plaas suid van die Namibiese grens gebeur het, het adv. Danie Dörfling SC aan die hof gesê. Die verdediging het ook gevra waar almal gestaan het toe die skietery plaasgevind het.
Claassens staan tereg op twee aanklagte van moord vir die dood van Coenie de Beer sr., ’n prokureur van Knysna, en James Kriel, ’n proteaboer van die Overberg. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy 247 haelgeweerpatrone onwettig besit het.
Volgens die staat was die moorde vooraf beplan. De Beer Jr., sy pa, Kriel, en Grant Thomson was op pad na die Richtersveld en het op 30 Oktober 2023 op Claassens se plaas oorgebly. Tydens ondervraging het De Beer erken dat hy daardie aand gedrink en dagga gerook het.
Hy het gesê hy het omstreeks 22:00 dagga gerook terwyl hy om ’n vuur gesit het en dit vir die ander aangebied, maar niemand het dit aanvaar nie. Hy het gewoonlik soggens en saans, ongeveer vyf dae per week, dagga gerook, en een tot twee gram op ’n slag gebruik.
De Beer het verduidelik dit het hom “meestal kalm” laat voel en sy balans “net effens beïnvloed”. Hy het ’n paar maande ná die skietery opgehou om dagga te gebruik.
‘Die advokaat wou weet waarom hy dink dat dwelmgebruik … nie in ’n
moordondersoek sou saak maak nie‘
Die verdedigingsadvokaat het daarop gewys dat De Beer nooit drank- of daggagebruik in sy eerste polisieverklaring of latere verklarings genoem het nie. De Beer het geantwoord hy het nie gedink dit was belangrik nie.
Die advokaat wou weet waarom hy dink dat dwelmgebruik op die aand van die skietery nie in ’n moordondersoek sou saak maak nie. Die hof het ook gehoor De Beer is na die voorval met posttraumatiese stresversteuring (PTSV) gediagnoseer.
“Kriel het my in die vroeë oggendure wakker geskree. Ek het hom langs Thomson se Toyota-bakkie aangetref waar hy probeer het om die deur oop te maak. Hy het egter gesukkel om te staan omdat hy ernstig gewond was,” het De Beer getuig.
Nie geweet pa is ook geskiet
De Beer het later sy pa in die donker huis aangetref waar hy swak gereageer het toe hy hom probeer wakker maak. Hy was egter nie daarvan bewus dat sy pa ook geskiet is nie.
Hy het dit eers later besef nadat hy en Thomson Kriel na ’n kliniek in Springbok gery het. Toe hy na die plaas terugkeer, het polisie en forensiese ondersoekers hom meegedeel dat sy pa reeds per ambulans hospitaal toe geneem is.
“De Beer sr. is die volgende dag in Mediclinic Upington oorlede,” sê Senokoatsane. Dokters het gesê hy is dood aan skietwonde in die buik, wat ernstige bloedverlies, skok en orgaanversaking veroorsaak het.
Die verhoor het Maandag begin. Vroeër vandeesweek het Claassens se regspan suksesvol aansoek gedoen om uitstel nadat hulle probleme met die internetverbinding aangemeld het en bykomende tyd versoek het om met hul kliënt te konsulteer.
Regter Lawrence Lever het die aansoek toegestaan nadat staatsaanklaer adv. Adele van Heerden bevestig het die verdediging het die staat vooraf oor die tegniese probleme ingelig.
Die verhoor gaan voort.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

