Central SA
Motorfietsryer rolstoelvry ná ongeluk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:47 Thu, 21 May 2026
Die motorfietsryer wat ernstig beseer is tydens ’n geldinsamelingsrit vir brandslagoffers, toon verbetering in beweeglikheid sowel as breinfunksie.
Jason Kilian, stigter van Modderbok Adventures, is ná weke in intensiewe sorg en vroeë fisioterapie in April na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas. Hy ondergaan nou indringende fisieke en kognitiewe terapie byna sewe weke nadat hy kritiek beseer is.
Kilian is op 7 Maart naby Carnarvon in die Noord-Kaap beseer terwyl hy deelgeneem het aan The Epic Ride, ’n reis van 4 800 km ten bate van die Hero Burn Foundation. Hy het ’n matige tot ernstige traumatiese breinbesering opgedoen, tesame met frakture aan sy C6- en C7-werwel, en het later ingewikkelde nekoperasies ondergaan.
“Sy huidige vordering stem ooreen met Rancho Vlak 7-herstel, dikwels na verwys as die “Outomatiese-Gepaste” stadium, waar pasiënte meer konsekwent met hul omgewing en daaglikse roetines begin omgaan,” sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn Foundation en ’n vriendin.

Kilian se vordering bly konsekwent, maar geleidelik, met sommige dae wat moeiliker is as ander. Foto Facebook
Kilian word meer bewus van sy omgewing en het interaksie met mense rondom hom, hoewel hy steeds uitdagings ervaar wat algemeen met hierdie stadium van herstel vereenselwig word.
Dit sluit in kort- en langtermyngeheueprobleme, geestelike moegheid, oorstimulasie, probleme met konsentrasie en die verwerking van inligting, af en toe impulsiwiteit en frustrasie, uitdagings om aan te pas by onbekende situasies, en voortdurende besluitnemingsprobleme.
Een van die belangrikste fisiese verbeterings is dat Kilian nie meer afhanklik is van ’n rolstoel nie. “Hy mobiliseer nou met hulp en gebruik ’n loopraam tydens rehabilitasiesessies.
Hoewel hy steeds ondersteuning en toesig benodig wanneer hy loop, is dit ’n groot stap vorentoe in vergelyking met sy vorige toestand in die hospitaal,” sê Du Plooy. “Hy werk ook uiters hard aan sy rehabilitasieprogram en voltooi meer as vier uur daaglikse fisioterapie, tesame met arbeids- en spraakterapie.”

Kilian hoef nie meer ’n rolstoel te gebruik nie. Foto verskaf
Kilian se vordering bly konsekwent maar geleidelik, met sommige dae wat moeiliker is as ander. Terapeute en diegene na aan hom sê egter dat vorentoe beur ten spyte van die voortdurende uitdagings van herstel van traumatiese breinbeserings.
Kognitief is daar ook goeie tekens. Sy korttermyngeheue verbeter stadig, vertel Du Plooy. Hoewel daar nog ’n lang reis voorlê, word hierdie voorwaartse treetjies as betekenisvolle mylpale in sy herstel beskou.
Kilian het ook ongeveer 3 kg aangesit nadat hy voorheen meer as 20 kg in intensiewe sorg verloor het.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

