On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Brakkie op Vaalpark-ashoop kry tweede kans

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:12 Fri, 22 May 2026

Brakkie op Vaalpark-ashoop kry tweede kans | News Article
Dumpling. Foto verskaf

Iemand het ’n hondjie op die ashoop weggegooi. Sy was gedaan en uitgeteer, verbleek en nie meer mooi nie.

Maar anders as die lappop in die geliefde kinderliedjie wat gekroon is as die ashoopkoningin, het niemand haar getroos en gesoebat sy moes bly nie. Dumpling, soos die gelukkige brakkie intussen gedoop is, is gered nadat sy vasgemaak aan ’n boom op ’n stortingsterrein by Vaalpark gevind is. 

Nes die lappop, was sy in ’n swak kondisie en het dringend sorg en liefde nodig gehad. Die jong Jack Russell-kruising was uitgehonger toe sy by die skuiling aangekom het, vertel Andy Wrigley van Vaalpets. “Dit het gelyk asof sy al ’n geruime tyd sonder kos en water was.”

’n Goedhartige vrou van die Vaaldriehoek het glo op die hondjie afgekom en ’n man genader wat blykbaar sy eienaar was, om te onderhandel. Sonder enige weerstand het hy die hondjie gewillig aan haar gegee, waarna sy haar na die skuiling geneem het.

Dumpling is ’n vriendelike hond. Foto verskaf

Sy is deur ’n veearts ondersoek en het die nodige mediese toetse ondergaan. Ten spyte van haar toestand, het sy geen tekens van siekte of gesondheidsprobleme gehad nie. Sedert sy by die skuiling aangekom het, het Dumpling se vrolike persoonlikheid vinnig personeel en besoekers se hart gewen.

“Ná alles wat sy deurgemaak het, is sy so ’n gelukkige en vriendelike hond. Sy spring altyd op vir aandag en soek net liefde. Die oomblik as sy mense se stemme hoor, raak sy so opgewonde en begin huil,” sê Wrigley.

Dumpling is nog onder waarneming terwyl die skuiling toesien dat sy gesond bly voordat sy beskikbaargestel word vir aanneming. “Ons wag gewoonlik ongeveer tien dae voordat ons met die aannemingsproses begin om seker te maak alles is medies reg. Maar sy sal beslis binnekort beskikbaar wees vir aanneming.”

Wrigley vra die publiek moet mooi nadink voordat hulle hul diere laat vaar of prysgee. “Daar is altyd beter alternatiewe beskikbaar. As jy nie meer vir jou troeteldiere kan sorg nie, oorweeg dit asseblief om hulle na ’n skuiling of reddingsorganisasie te neem.

“Elke dier verdien ’n tweede kans, en daar is altyd iemand wat bereid is om hulle die liefde en sorg te gee wat hulle verdien.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.