On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Yvette
Listen Live Streams

Central SA

Lewe en verlies: Jong man kry nier ná ongeluk ingenieur eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:15 Sat, 23 May 2026

Lewe en verlies: Jong man kry nier ná ongeluk ingenieur eis | News Article
Arno Taljaard. Foto verskaf

’n Lewensveranderende nieroorplanting en ’n gesin wat rou oor die verlies van hul geliefde kom saam in ’n bittersoet verhaal van verlies en oorlewing.

Ná byna 15 maande op dialise het Arno Taljaard (25) Dinsdag (19/5) ’n nieroorplanting ondergaan. Jare lank is sy lewe bepaal deur nierversaking en Alport-sindroom, ’n genetiese siekte wat sy niere, gehoor en algemene gesondheid van kleins af beïnvloed het.

Die jong man wat lank met net 7%-nierfunksie geleef het, het eindelik ’n tweede kans gekry ná ’n uiters moeilike pad van siekte, dialise en onsekerheid oor sy toekoms.

Vir sy ma, Elzabé Castelyn, voel die oomblik steeds onwerklik. “Dit het letterlik gevoel soos Kersfees en die grootste geskenk wat ek nog ooit ontvang het.”

Arno Taljaard saam met sy ma, Elzabé Castelyn. Foto verskaf

Arno se gesondheidsprobleme het op vyfjarige ouderdom begin toe bloed in sy urine opgemerk is. Alport-sindroom is later by hom gediagnoseer, ’n toestand wat ook in sy familie voorkom.

Sy oupa Chris du Plessis het ook nierversaking gehad en ’n oorplanting op 19 in 1969 ontvang, maar is op 27 oorlede toe Elzabé net vyf jaar oud was. 

Van jongs af het sy geweet wat voorlê, al was daar niks wat sy kon doen om dit te keer nie. “Die moeilikste ding is om te weet jou kind het ’n nierprobleem, maar jy kan niks doen nie. Jy moet net wag tot die nierversaking kom.”

Die siekte het ook sy gehoor en algemene gesondheid beïnvloed. Hy het gehoorapparate nodig gehad, medikasie vir bloeddruk gebruik en ’n streng dieet gevolg. Tog het sy ma hom as ’n normale kind grootgemaak.

Arno Taljaard is mal oor motorfietsry. Foto verskaf

Hy was op die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein en het later merkwaardige hoogtepunte bereik. Arno het Suid-Afrika as ’n rasieleier in die VSA verteenwoordig. Hy is ook ’n talentvolle kunstenaar wat graag skilder.

Toe nierversaking eindelik intree, het Arno se lewe ingrypend verander. Hy het in Februarie verlede jaar met dialise begin en 14 maande lank elke nag aan ’n masjien geleef. Elke aand om 20:00 het hy met behandeling begin en eers om 05:00 klaargemaak.

“Dit het hom geestelik baie geraak omdat hy nie ’n normale jongmenslewe kon hê nie,” sê Elzabé.

Francois Terblanche, Arno Taljaard en Ian Schönborn. Foto verskaf

Sy vriend Francois Terblanche vertel Arno het nie geweet of hy moet lag of huil toe hy die nuus hoor nie. “Ek was net so bly vir hom. Hoewel hy probeer dapper wees, kon mens soms sien dat dit ’n groot emosionele tol op hom het.”

Voordat die oorplanting kon plaasvind, moes Arno deur streng mediese toetse gaan om te verseker dat hy geskik is vir die operasie.

Op 19 Mei het hy ’n ses uur lange operasie ondergaan. Hy was daarna byna drie dae lank gesedeer en is eers Donderdag (21/5) stelselmatig wakker gemaak. Sy ma kon hom net deur ’n venster sien.

Arno Taljaard het Suid-Afrika verteenwoordig as rasieleier. Foto verskaf

Arno is tans onder streng mediese sorg. Die grootste risiko’s is infeksie, bloeddrukonstabiliteit en moontlike verwerping van die nier. Hy sal geruime tyd ná ontslag in isolasie moet bly en kan vir 'n onbepaalde tyd nie werk nie. 

Hy sal ook lewenslank immuunonderdrukkende medikasie moet gebruik. ’n Geldinsameling help om die gesin te ondersteun, terwyl Elzabé verlof neem om vir hom te sorg.

Arno Taljaard en sy pa, Alwyn. Foto verskaf

Ná jare van dialise moet Arno nou leer hoe ’n nuwe lewe sonder die masjien lyk wat elke nag sy bestaan bepaal het. “Dis amper asof hy weer ’n nuwe realiteit moet leer,” sê Elzabé. 

“My hart gaan uit na die skenkerfamilie. Ek kan my net indink waardeur hulle gaan. Om ’n kind te verloor is iets wat geen ouer ooit moet ervaar nie. Ek is oneindig dankbaar – hul kind het my kind se lewe gered. He left this world a hero.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.