On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Yvette
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-fotograaf se unieke fotosessies lei tot vriendskappe, romanse

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:53 Sat, 23 May 2026

Noordwes-fotograaf se unieke fotosessies lei tot vriendskappe, romanse | News Article
Kaylen Kroese bring vreemdelinge bymekaar met haar kamera. Foto verskaf

Dit begin as ’n ongemaklike bekendstelling tussen twee vreemdelinge, maar eindig dikwels in lag, diep gesprekke en soms selfs romanse danksy 'n unieke fotografiekonsep.

Dit het begin as ’n eenvoudige fotografie-idee, maar het vinnig belangstelling op sosiale media gekry. Die “vreemdelingfotosessies” lok honderde nuuskierige volgelinge wat gretig is om 'n kans te waag om iemand te ontmoet in 'n wêreld wat oorheers word deur afspraak-apps. 

Kaylen Kroese (25), fotograaf van Potchefstroom, sê sy is iemand wat daarvan hou om opregte verhoudings met haar kliënte te bou. 

“Wanneer mense gemaklik voel by jou, raak hulle meer hulself, en dit stel my in staat om oomblikke vas te vang wat ek sou gemis het. Ek wil foto’s neem wat meer beteken as net die gewone ‘staan en glimlag’-foto’s,” vertel sy.


Kroese neem al tien jaar foto’s en die idee het vroeër vanjaar ontstaan ná versoeke van haar volgelinge op sosiale media.

“Ek het video’s daarvan op sosiale media gesien waar Amerikaners dit doen en gedink dit is 'n koel konsep, maar ek was nie noodwendig geïnteresseerd daarin nie. Kort daarna het een van my volgelinge vir my laat weet dat sy belangstel as ek ooit so iets doen. 

“Ek glo dit is net die Here wat die deur vir my oopgemaak het. Ek het my eerste fotosessie gedoen en dit het baie aandag gekry, maar die tweede een het vlamgevat en die res is geskiedenis!”

Hoewel die proses heel eenvoudig is, is dit maar gevul met senuwees en afwagting.

Beskrywings

Enkellopende mans en vroue vul 'n aansoekvorm in met foto's en inligting oor hulself, insluitend hul persoonlikheid, belangstellings en loopbaan. Kroese kies dan twee vreemdelinge gegrond op hul beskrywings. 

“Hulle word blindelings tydens die sessie na mekaar gelei, ontmoet mekaar vir die eerste keer en neem dan foto's saam. Hulle het geen idee wie hulle vooraf gaan ontmoet nie en het geen inligting oor mekaar nie – nie eens ’n haarkleur word gegee nie.”


Ná die fotosessie kan deelnemers besluit of hulle nommers wil uitruil of mekaar oor ’n koppie koffie beter wil leer ken.

“Dis vir my lekker om tydens die sessies uit te vind of hulle van mekaar hou en dan te sien hoe hulle al hoe meer opgewonde en gemaklik met mekaar raak.”

Van die vreemdelingfotosessies het reeds tot verhoudings en blywende vriendskappe gelei. “Selfs diegene wat nie noodwendig saam beland het nie, het steeds goeie vriendskappe gevorm.”

Die deelnemers stuur gereeld vir haar opdaterings en van hulle word in die openbaar herken danksy die video's. “Ek word ook nou herken en soms wanneer iemand my in 'n winkel groet, weet ek dadelik hulle weet van die vreemdelingfotosessies.”

Een deelnemer wat in een van die video's verskyn het, is later deur die klerehandelsnaam Boerboelwear gekontak en het sedertdien vir hulle begin modelwerk doen.

Sy het ook begin met “Stranger Night”, waar enkellopendes mekaar ontmoet en vyf minute lank met mekaar gesels.


“Ek kies tussen 10 en 15 vroue en net soveel mans, dan kry hulle almal die geleentheid om met mekaar te praat.” 

Haar volgende Vreemdelingaand se tema is ’n Nag in Rome met pizza, koffie, kerse, ligte en musiek. 

“Daar sal ook pryse wees vir byvoorbeeld die persoon wie se naam die meeste neergeskryf is of die een wat die meeste gepraat het,” vertel sy laggend. “Ek kies ook altyd my gunstelingpaartjie van die aand.”

Kroese se grootste doelwit bly steeds om foto's te skep wat mense iets laat voel.

“Ek dink die grootste kompliment is dat my foto's stories vertel en dis presies wat ek wil hê.  Dit moet ware emosies en oomblikke wees wat vasgevang word.” 

Hoewel sy ’n BA-graad in kommunikasie en honneurs in sakebestuur aan die Noordwes-Universiteit  behaal het, het sy nooit verwag sy sal voltyds fotografie doen nie. 

Sy is dankbaar vir al die geleenthede en vir die vreemdelinge wat bereid is om 'n kans op liefde voor haar kameralens te waag.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.