Central SA
Polisie ondersoek voorval ná besoekers in Krugerwildtuin sterf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:01 Sun, 24 May 2026
Die polisie ondersoek die omstandighede nadat twee besoekers se liggame naby ’n rivier in die Krugerwildtuin gevind is.
Personeel het opgemerk dat hulle nie Woensdag (20/5) na die kamp teruggekeer het nie en daar is onmiddellik met ’n soektog begin. Hul liggame is Vrydag deur ander toeriste ontdek.
Hulle is naby ’n rivier in die Pafuri-gebied van die Nxanatseni-noordstreek gevind, sê JP Louw, Sanparke se hoof van kommunikasie en woordvoerder. “Veldwagters is onmiddellik in kennis gestel en daar is bevestig dat die voertuig waarin hulle gereis het, steeds vermis word.”

Willie Aucamp, Foto verskaf
Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing, sê dit is die eerste keer in die wildtuin se geskiedenis dat die polisie ’n saak van hierdie aard ondersoek.
“Ek was reeds in kontak met die uitvoerende hoof en voorsitter van die wildtuin en enige inligting en hulp wat die polisie benodig sal aan hulle verskaf word,” sê hy.
Louw sê Sanparke is hartseer oor die voorval en bevestig die naasbestaandes van die oorledenes is reeds verwittig. Die organisasie sal die familie bystaan met vervoer, verblyf en repatriasiereëlings.
“Uit respek vir die families sal geen verdere inligting bekendgemaak word nie.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

