Central SA
Voormalige Vrystaatse polisieman doen aansoek om borgtog voor vonnisoplegging─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Mon, 25 May 2026
Hy is skuldig bevind aan poging tot moord en intimidasie en sal Maandag (25/5), tien dae voor vonnisoplegging, om borgtog aansoek doen.
Daniel Fourie se borgtogaansoek is Vrydag (15/5) in die Welkom-streekhof uitgestel. Hy is sedert 7 April in aanhouding in Odendaalsrus. Die staat sal na verwagting die aansoek teenstaan.
Fourie en sy vrou, Anna Francina, is op 7 April skuldig bevind aan meer as ’n duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n langdurige vete met die broers Manny en José Jardim.
Die egpaar is ook skuldig bevind aan poging tot moord in verband met ’n voorval waarin een van die broers se huise na bewering met ’n spykerbom geteiken is, terwyl skote ook op die eiendom afgevuur is.
Een van die koeëls het na bewering ’n kind rakelings gemis. Hulle is ook skuldig bevind aan bykomende intimidasie-aanklagte.

Daniel Fourie Vrydag in die hof. Foto’s: Charne van der Merwe
Anna se waarskuwing is verleng nadat vonnisoplegging, wat aanvanklik op 8 April sou plaasvind, tot 4 Junie uitgestel is. Die uitstel is deur die verdediging versoek om tyd toe te laat om reëlings te tref vir die egpaar se gestremde kind (34).
Die verdediging sal na verwagting ’n maatskaplike werker se verslag by die volgende hofverskyning indien om verdere besonderhede te verskaf oor die toestand en behoeftes van die kind.

Die Jardim-broers is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf
Fourie appelleer ook teen sy ontslag uit die polisiediens na bewerings van misdadige gedrag. Die verhoor, wat al meer as ses jaar aan die gang is, is herhaaldelik om verskeie redes vertraag, insluitend ’n doktersbrief wat namens Anna ingedien is weens brongitis, asook Fourie se versoek om ’n tolk, al het hy voorheen vrae in Engels beantwoord.
Fourie het deur die jare verskeie kere van regsverteenwoordiger verander wat bygedra het tot vertragings in die saak. Hy het voorheen gesê hy kan nie private regsverteenwoordiging bekostig nie, maar het vir adv. Elias Radebe gebruik vir sy borgtogaansoek.
Adv Allen Simpson is ingevolge art. 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

