Central SA
Hulp gevra ná brand by diereskuiling in Karoo─── ZENANDE MPAME 12:32 Mon, 25 May 2026
’n Noord-Kaapse diereredder vra hulp nadat ’n brand haar huis in puin gelê en amper al haar voorraad verwoes het. Sy sorg vir sowat 200 hawelose troeteldiere.
Courtney Stassen, wat Noupoort Animal Rescue 16 jaar gelede begin het, het alles in die brand verloor, waaronder haar persoonlike besittings en noodsaaklike toerusting vir die versorging van die katte en honde. Enkele dae voor dié brand op 9 Mei was haar plek toegesneeu toe bibberweer gevaar vir die diere ingehou het.
Op dié noodlottige Saterdag was sy besig om die diere te versorg op die erf waarop haar huis ook staan. Dis dieselfde daaglikse roetine wat sy al sedert 2010 doen.
Nadat sy die honde en katte kos gegee het, is sy terug huis toe, waar vlamme haar begroet het. Die brand het vinnig deur die huis versprei en alles in puin gelê.
Paramedici het met haar hospitaal toe gejaag nadat sy rook ingeasem en geringe beserings opgedoen het terwyl sy van die diere na veiligheid probeer neem het.
“Courtney se grootste kommer was om seker te maak die diere is veilig,” vertel Reinette Smith, voorsitter van Namaqua Dog & Donkey Foundation. “Ten spyte van die gevaar kon sy die honde in haar huis na buite neem voor die vlamme die hele plek verswelg het.”
Die hele huis het afgebrand, vertel Smith. “Dit sluit al Courtney en haar lewensmaat se persoonlike besittings in, asook noodsaaklike voorraad soos die honde en katte se kos.”

Die hele huis het afgebrand. Foto Verskaf
“Sy het dringend hulp nodig om van voor af te begin en weer vir die diere te kan sorg. Ons spoor mense ook aan om te oorweeg om van die diere aan te neem.”
Intussen sê Ellen Dunning van die liefdadigheidsorganisasie Ellen’s Angels Online Charity Store mense en organisasies landwyd help Stassen waar hulle kan. Haar vriende op Noupoort koördineer die poging.
“Courtney en David Benedito, haar lewensmaat, slaap op matrasse in sy supermark. Daar is ’n toegangsdeur van die uitgebrande huis na die winkel sodat hulle kan keer dat die winkel geplunder word,” sê Dunning.
“Noupoort is vrek koud; daarom is warm goed vir hulle en die skuiling se honde en katte die belangrikste. Ons het reeds ’n houer komberse gestuur en hondejassies geskenk.”
’n Groot besending van hondekos is ontvang uit Johannesburg, maar katkos is dringend nodig. “Op die oomblik het die honde genoeg kos.”
Stassen het sowat 225 diere in haar sorg, van wie baie verwerp is deur eienaars wat nie langer vir hulle kon of wou sorg nie.
Voor die brand is berig die skuiling het te kampe met een van die ergste winters tot dusver toe snerpende koue, nat toestande en sneeu tientalle diere se lewe in gevaar gestel het.
Die Karoowinter begin nou maar eers. Daarom het die diereskuiling veral katkos, komberse, hondehokke en steun nodig om die koue maande te oorleef.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


