On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verhoor ná moord op Upington-bejaarde begin later vanjaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:56 Tue, 26 May 2026

Verhoor ná moord op Upington-bejaarde begin later vanjaar | News Article
Hennie en Debbie Muller. Foto verskaf

Die moordverhoor van die man wat daarvan beskuldig word dat hy ’n oudpolisieman vermoor en sy vrou wreed aangeval het, sal in Oktober begin.

Gilliano Maasdorp (36) sal na verwagting van 19 tot 23 Oktober in die rondgaande hooggeregshof op Upington teregstaan op aanklagte van moord en poging tot moord. Hy word ook aangekla van brandstigting omdat hy na bewering die egpaar se huis aan die brand gesteek het.

Maasdorp het Vrydag (22/5) in die streekhof verskyn in verband met die aanval op Hennie Muller (82) en sy vrou, Debbie Muller (72), sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. Die ander aanklagte is diefstal, roof en regsverydeling.

Hulle is op 15 November by hul meenthuis in Oosterville, agter die Village-winkelsentrum by die Villa Vera-meenthuiskompleks, aangeval.

Gilliano Maasdorp word ook aangekla van brandstigting. Foto: X

Die staat beweer die beskuldigde het die egpaar se meenthuis in die Villa Vera-kompleks, Oosterville, vroeg die oggend van 15 November binnegegaan. Hennie is na bewering herhaaldelik gesteek toe hy probeer het om in te gryp en sy vrou te beskerm.

Debbie is ook na bewering aangeval en het veelvuldige beserings opgedoen wat haar in ’n kritieke toestand gelaat het, maar inwoners van die meenthuiskompleks het eers heelwat later, kort voor 08:00, rook en vlamme uit die eiendom sien kom.

Bure het hulle daarheen gehaas en toegang verkry om die bejaarde egpaar te help. Debbie is uit die brandende huis gered en na die hospitaal geneem vir noodbehandeling.

Man binnekort in hof ná aanval op bejaarde egpaar in Upington  | News Article

Die brandweer blus die brand by die egpaar se huis. Foto: Anthoney Allen

Hennie se liggaam is later binne die huis ontdek, waar hy op die toneel dood verklaar is. Die polisie het onmiddellik ’n ondersoek na die aanval van stapel gestuur, en Maasdorp is later dieselfde dag by sy huis in hegtenis geneem.

Tydens sy eerste verskyning op 17 November het inwoners van Upington buite die hof saamgekom. Hulle het ’n versoekskrif, onderteken deur meer as honderd mense, by die landdros ingedien waarin ’n streng vonnis en die weiering van borgtog geëis is.

“Die saak is Vrydag formeel na die hooggeregshof oorgeplaas, sê Senokoatsane. Maasdorp bly in aanhouding nadat hy in November tydens sy eerste hofverskyning gesê het hy sou nie om borgtog aansoek doen nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.