On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bethlehem-lugskou die enigste vanjaar in die Vrystaat

───   SUSAN MARÉ 13:06 Tue, 26 May 2026

Bethlehem-lugskou die enigste vanjaar in die Vrystaat | News Article
Die Marksmen Aerobatic Team sal op Bethlehem optree. Foto verskaf

Aksiebelaai, hoëspoed-verbyvlugte, grasieuse formasievlugte en uitdagende kunsvliegtoertjies.

Dis wat toeskouers op die Bethlehemse Wings & Wheels Saterdag (30/5) op die Bethlehemse vliegveld kan verwag. Dit is die enigste lugskou wat vanjaar in die Vrystaat aangebied word.

Die hooforganiseerder van Wings & Wheels is die gemeenskapsorganisasie Make Bethlehem Beautiful (MBB), ook bekend as Thlokomelo, in samewerking met Dihlabeng-munisipaliteit en sakeondernemings op die dorp.

Bethlehem se lugskou was nog altyd gereken as een van die topvyf in Suid-Afrika. Dit is die eerste keer dat ’n onafhanklike gemeenskapsprojek sonder winsoogmerk dié stuurstang vashou om ’n skou van gehalte aan te bied waarvan die opbrengs vir die opbou en verfraaiing van die dorp aangewend sal word.


Bethlehem is een van drie Vrystaatse dorpe wat die streeksfinaal van kykNET se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie gehaal het en is kliphard besig om sy vere reg te skud.

Jacques Windt, sakeman en een van die dryfkragte agter die skou, sê vanjaar word selfs meer aangebied omdat die lugskoukomitee met vier veteraanmotorklubs hande gevat het. Dis ’n dubbele vertoning en uitstalgenot vir alle skougangers.

“Saterdag (30/5) beloof om ’n dag van groot vermaak en samesyn te wees met stalletjies wat ’n verskeidenheid kossoorte en ander entrepreneursware bied, en hope pret vir kinders. Wat toeskouers kan verwag, is dat kunsvliegvlieëniers (aerobatics) en opwindende formasies na Bethlehem kom om die grense van swaartekrag te toets.

‘Wanneer besighede en die gemeenskap saamstaan word herstel 
en mooi maak ’n kragtige projek’

“Make Bethlehem Beautiful is reeds sedert 2025 in samewerking met sakeondernemings aktief bedrywig om Bethlehem op te knap. Strate in alle buurte word herstel en die dorp word andersins verfraai.

“Die fees is dan juis ten bate van hierdie vrywillige gemeenskapsprojek deur besighede. Wanneer besighede en die gemeenskap saam staan word herstel en mooi maak ’n kragtige projek.”

MBB se feeskomitee hanteer die amptelike lugskoubemarking en -koördinering. Die plaaslike munisipaliteit is die vennoot wat die infrastruktuur soos die Bethlehem-vliegveld en amptelike ondersteuning bied. Bedryfsvennote is organisasies soos die Suid-Afrikaanse Lugskouvereniging, wat verantwoordelik is vir vliegveiligheid en -beplanning.

‘n Uitstalling van veteraanmotors sal deel van die lugskou wees. Foto verskaf

Die lugskou word bestuur deur ’n gekombineerde reëlingskomitee wat vrywillig saamwerk. Die amptelike lys sluit plaaslike besighede en sleutelrolspelers in wat as deel van die breër komitee en borgskapnetwerk help om die geleentheid moontlik te maak.

Hoofborge in die reëlingskomitee is Bethnet CC en Bethnet Security (sekuriteitskoördinering), N5 4x4 Accessories & Fitment Centre, Point-S Bethlehem-Oos, Vleissentraal Bethlehem en OVS Biltong en Deli.

Die amptelike vliegprogram en volledige spanne vir die Wings & Wheels Bethlehem Lugskou 2026 is gefinaliseer, vertel Windt. “Wêreldklas-kunsvliegvlieëniers (aerobatics) en opwindende formasies kom Bethlehem toe.

’n Militêre straalvliegtuig, die Aero L-29 Delfín (ZU-DNW), sal op Bethlehem te sien wees. Foto verskaf

“Die laaste tyd is hard gewerk. Sonder die werk van die lughawebestuurder, Khotso Motsoeneng van Dihlabeng-munisipaliteit, aan wie ons groot dank verskuldig is, sou ons nie ’n lugskou kon aanbied nie.”

Gegrond op die amptelike registrasies by Airshow Display en tradisionele deelnemers aan die Bethlehem-lugskou, is bevestigde spanne en vliegtuie bekend. Die Marksmen Aerobatic Team se bekende vliegkunsspan met hul presiese en asemrowende formasievlugte sal toeskouers na hul asems laat snak.

Die Aero L-29 Delfín (ZU-DNW), wat ook kom, is ’n gewilde militêre straalvliegtuig (jet) wat die skare sal vermaak met sy brullende enjin en spoed.

Die lugskou word vanjaar die eerste keer met ’n onafhanklike gemeenskapsprojek sonder winsoogmerk aan die stuur aangebied. Foto verskaf

Die presiese daaglikse skedule word op die oggend van die skou tydens die vlieënier-beplanning gefinaliseer. Deelnemers wat lugvaart-entoesiaste gewoonlik by hierdie skou sien, is Nigel Hopkins Aerobatics en ander vooraanstaande Suid-Afrikaanse kunsvliegkampioene, die Navion Club SA met sy unieke formasieverbyvlugte, en helikopters wat ook spesiale heli-flips vir die publiek kan aanbied.

Jacques sê die lugskou beloof om ná die tyd nog lank in die geheue van die toeskouers te draai. 

Kaartjies kan aanlyn gekoop word of by die toegangshekke. Aanlynkaartjies is beskikbaar op My Dihlabeng Amptelike Portaal. 

Kaartjiepryse is R150 vir volwassenes (13 jaar en ouer), R100 vir kinders (ses tot twaalf) en R50 vir kleuters. Pensioentrekkers betaal ook R100. Toegang tot die partytjie ná die skou vanaf 13:00 beloop R100 per persoon. Alle kaartjies sluit die lugskouvertonings en die besigtiging van veteraanmotors se uitstalling in.

Die amptelike sperdatum vir stalletjie-aansoeke was 15 Mei. As uitstallers dit misgeloop het, maar wil kyk of ruimte beskikbaar geraak het weens ’n kansellasie, kan navrae aan die komitee gerig word. 

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.