Central SA
Meer veediefstal in Noord-Kaap kwel polisie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:18 Tue, 26 May 2026
Die Noord-Kaapse polisie is bekommerd oor die toename in veediefstalgevalle veral onder bokke en skape.
Eiendomsverwante misdade bly ’n prioriteit vir die polisie. Volgehoue pogings word voortdurend versterk om hierdie misdade daadwerklik te bekamp en te voorkom, sê die polisie.
In samewerking met gemeenskappe en belanghebbendes bly die polisie daartoe verbind om proaktiewe maatreëls in werking te stel om die veiligheid van eiendom en lewendehawe te beskerm, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.

Boere en vee-eienaars word aangeraai om die volgende veiligheidsmaatreëls te tref om hul vee te beskerm:
- Verseker dat alle heinings en hekke behoorlik onderhou word om vee te beskerm.
- Maak seker enige gate in of onder heinings word onmiddellik herstel.
- Eiendomseienaars moet nie net verantwoordelikhede delegeer nie, maar moet persoonlik beheer neem deur hul vee gereeld te inspekteer.
- Wees veral waaksaam tydens volmaan, oor naweke en aan die einde of begin van elke maand, of gedurende tydperke wat jy uit ondervinding weet wanneer veediefstal plaasvind.
- Ken jou bure.
- Tel vee ten minste een keer per week. ’n Deeglike veeregister kan nie genoeg beklemtoon word nie.
- Brandmerk alle vee. Nader jou polisie se veediefstaleenheid vir aansoekvorms om aansoek te doen om brandmerksertifikate by die departement van landbou.
- Boere word aangeraai om in tegnologie soos kringtelevisiekameras te belê.
- Vee-eienaars word aangemoedig om gebruik te maak van hulplyne wat deur samewerking tussen die SAPD, plaaslike boereunies en gemeenskappe gevestig is.
- Indien vreemde diere of verdagte persone by ’n veepos of boerderygebied opgemerk word, stel onmiddellik die bure of polisie in kennis.
- Vermy die indiensneming van ongedokumenteerde persone op plase.
Luidens die jongste misdaadsyfers het veediefstal in die tweede helfte van 2025 in talle provinsies afgeneem. In die Noord-Kaap het aangemelde gevalle van 192 in die vorige ses maande tot 161 gedaal en in Noordwes met 19 tot 745.

Skape word geteiken. Foto: SAPD
’n Groot afname is ervaar in die Vrystaat, waar veediefstalle met 114 gedaal het. Die provinsie het 612 gevalle in die laaste ses maande van 2025 aangemeld, wat 117 minder is as die ooreenstemmende tydperk. Landwyd is 429 minder gevalle by die polisie aangemeld.
Enigiemand met inligting oor veediefstal word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel of wenke deur te gee op die MySAPS-app.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

