On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse sakevrou in hof vir beweerde aanranding

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:31 Thu, 28 May 2026

Bloemfonteinse sakevrou in hof vir beweerde aanranding | News Article
Franzelle Venter. Foto: Facebook

’n Sakevrou van Bloemfontein kom na verwagting weer Vrydag (5/6) voor nadat sy na bewering haar werknemer aangerand het.

Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, het Maandag (25/5) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Die aanklag was aanvanklik poging tot moord, maar is later na aanranding verander, en sy is op waarskuwing vrygelaat.

Luidens die slagoffer, Dipao Moreng, se verklaring het die voorval na bewering op 24 Oktober by Venter se huis in Fichardtpark plaasgevind. Sy het glo by Venter se kosonderneming gewerk.

’n Rusie het glo tussen Venter en Moreng ontstaan nadat Moreng geld geëis het wat Venter haar na bewering geskuld het. Venter het toe glo gesê: “Wat gaan jy nou maak dat ek jou betaal.”

Franzelle Venter. Foto: Facebook

Die klaagster beweer die situasie het vererger nadat sy ontbied is om verpakking reg te maak waaraan sy na bewering die vorige dag gewerk het. Venter het haar glo beledig en ’n video van haar geneem terwyl sy gevra het of die standaard van die werk “die regte manier” was.

“Ek het toe besluit om te loop en vervoergeld gevra. Venter het aggressief geword. Sy het my teen die sleepwa gedruk terwyl sy my verwurg het,” beweer Moreng in haar verklaring.

’n Kollega het glo probeer ingryp, maar kon glo nie die beskuldigde van Moreng af weggekry nie. “Die hele tyd was haar hande op my nek en het my gewurg en ek kon nie asemhaal toe sy my gewurg het nie,” lui die verklaring.

Moreng het glo krapmerke aan die linkerkant van haar nek gehad terwyl nog ’n krapmerk op haar borskas sigbaar was.

“Ek wil hê die saak moet ondersoek word aangesien “niemand haar toestemming gegee het om my so aan te rand nie”.

Venter se regsverteenwoordiger, Wiehan Schoeman, sê die beweringe is onwaar. Hulle is tans in die proses om vertoë te rig aan die DOV om die klagte terug te trek of te bemiddel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.