Central SA
Welkom-sorgoord: Ses se saak weer uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:32 Thu, 28 May 2026
Die ses mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 81-jarige in ’n Vrystaatse versorgingsoord aangerand het, moet weer binnekort in die hof voorkom wanneer ’n verhoordatum na verwagting vasgestel sal word.
Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) het Donderdag (28/5) vlugtig in die Welkomse streekhof verskyn. Brummer, wat ’n senior pos by die versorgingsoord beklee het en ook ’n aandeelhouer was, word as die hoofbeskuldigde beskou, het ao. Anja Tait, ondersoekbeampte, vroeër gesê.
Sy en haar vyf oudkollegas van die Silver Village-versorgingsoord staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die verdediging het uitstel versoek omdat hulle verdere inligting wil inwin.
’n Anonieme bron beweer 40 video-opnames wat verband hou met die beweerde aanranding van Bettie Payne sal as bewysstukke ingedien word. Die beeldmateriaal van 7 Julie wys na bewering hoe Brummer pille in Payne se mond forseer, in haar gesig blaas, haar neus toeknyp en op haar spoeg nadat sy weier om die medisyne te neem.

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane, Mapaseka Majorobella, Anna Fourie en Lynette Brummer. Foto: Charne van der Merwe
Toe Payne begin skree, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om Payne se mond en kop gedraai. Payne se dogter, Mariana, het kort voor die voorval ’n kamera in haar ma se kamer laat installeer nadat sy vermoed het iets is verkeerd.
Die hof het die beskuldigdes gewaarsku die aanklagte is ernstig en elke oortreding kan ’n vonnis van tot 15 jaar tronkstraf oplewer indien hulle skuldig bevind word.
Sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat onder streng voorwaardes, insluitend dat sy minstens 100 m van die instelling af weg moet bly en haar paspoort moes indien. Die ander vyf beskuldigdes is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Bettie Payne se hande. Foto verskaf
Tait het vroeër getuig die video-opnames is deur ’n sigbare kamera in die kamer vasgelê en die personeel was bewus daarvan. Die beeldmateriaal is later aan die ondersoekbeamptes oorhandig.
Fourie, Majorobella, Ngcongwane, Mofolo en Moloi word ook in die beeldmateriaal geïmpliseer. Fourie het na bewering die kamer met ’n selfoon binnegekom terwyl Payne om hulp geskree het. Twee personeellede het na bewering toegekyk.
Brummer word verder daarvan beskuldig dat sy Payne met ’n kombers toegemaak het, gesê het niemand sou haar hoor nie, die lig afgeskakel het en die kamer verlaat het.
Fourie het ná die voorval bedank, terwyl die ander werknemers ná dissiplinêre verhore ontslaan is. Die verdediging het vroeër die wettigheid van die inhegtenisnemings bevraagteken en die staat beskuldig dat hulle die verrigtinge vertraag het.
Tait se beëdigde verklaring en haar getuienis, wat swaar op die videobewyse gesteun het, is ook betwis. Die hof het die borgtogvoorwaardes vir al ses beskuldigdes verleng.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

