Central SA
Bloemfontein: Tweede Woolies-ontploffing in 24 uur skok─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:29 Fri, 29 May 2026
Die Valke sal verder ondersoek instel ná ’n oënskynlike ontploffing binne ’n Woolworths-winkel by ’n winkelsentrum in Bloemfontein.
Polisie, insluitend die plofstofeenheid en polisiehonde, is Vrydagoggend (29/5) na die winkel in Preller Plein ontplooi. Die hele sentrum was gesluit om te bepaal of enige sekondêre ploftoestelle geplant is.
Die betrokke gedeelte van die winkelsentrum is steeds as ’n misdaadtoneel afgesper, terwyl ander dele van die winkelsentrum oop is vir die publiek.

Polisie, insluitend lede van die honde-eenheid, was op die toneel. Foto verskaf
“Die toneel is aan die Valke oorhandig vir verdere ondersoek. Die ontploffing het binne ’n afgeslote gebied van die Woolworths-winkel plaasgevind, wat ’n harde geraas veroorsaak het, hoewel die betrokke area self nie uitgebreid was nie,” sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Hy sê die geboueienaars bepaal reeds of daar enige strukturele of ander skade deur die ontploffing veroorsaak is.

Mense drom saam buite die sentrum. Foto verskaf
Die polisie het ook lede van die publiek versoek om waaksaam te wees. “Moenie met enige verdagte pakkies peuter nie. Los dit soos dit is en kontak die polisie sodat ons plofstofeenheid ondersoek kan instel,” sê Kareli.
Die voorval kom minder as 24 uur nadat nog ’n ontploffing by ’n Woolworths-winkel in die Menlyn Park-winkelsentrum in Pretoria aangemeld is.
In daardie voorval het ’n toestel na bewering kort voor 01:00 Donderdagoggend binne die winkel ontplof. Volgens die polisie was die skade beperk tot rakke en voedselartikels in die kosafdeling en niemand is beseer nie.
Ondersoeke na albei voorvalle duur voort.
OFM Nuus sm
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

