On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

‘Gebalanseerde geskiedenis is noodsaaklik vir nasiebou’ – VF Plus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:09 Sun, 31 May 2026

‘Gebalanseerde geskiedenis is noodsaaklik vir nasiebou’ – VF Plus | News Article
Foto ter illustrasie, iStock

Die party glo geskiedenisonderrig moet leerders toerus met ’n gebalanseerde begrip van die verlede, eerder as om politieke of ideologiese narratiewe te bevorder.

In ’n diverse land soos Suid-Afrika behoort die onderwysstelsel ruimte te skep vir verskillende kulture, gemeenskappe en geskiedkundige ervarings. Nie om as ’n enkele weergawe van die geskiedenis op alle leerders af te dwing nie, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP.

Die VF Plus het Vrydag (29/5) sy voorlegging aan die departement van basiese onderwys ingedien oor die voorgestelde wysigings aan die geskiedenisleerplan. 

Die party verwerp die voorstelle omdat dit ’n voortsetting is van ’n langdurige proses waarin die geskiedenis van die Westerse beskawing, en Afrikaners in die besonder, op ’n eensydige en vyandige wyse aangebied word.

Siviwe Gwarube. Foto: Facebook

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het in April gevra vir kalmte nadat kritiek ontstaan het oor berigte dat belangrike geskiedkundige temas, waaronder die Amerikaanse en Franse Rewolusies, dele van die plaaslike bevrydingstryd en die Anglo-Boereoorlog, moontlik uit die kurrikulum gelaat of herstruktureer kan word.

Boshoff sê geskiedenisonderrig behoort daarop gemik te wees om begrip, kritiese denke en respek vir verskillende kulturele erfenisse te bevorder.

‘Nuwe voorstel vir grondhervorming kan verwoestend wees’ | News Article

Wynand Boshoff. Foto: VF Plus

“Suid-Afrika se kulturele verskeidenheid is een van sy grootste bates. Dit behoort weerspieël te word in ons geskiedenisonderrig, eerder as dat een identiteit of politieke interpretasie op alle leerders afgedwing word. 

“Jong mense moet toegang hê tot ’n breë en gebalanseerde begrip van die geskiedenis, insluitend die geskiedenis van hul eie gemeenskappe.”

Die VF Plus stel voor dat burgerlikeorganisasies die reg verkry om self riglyne vir die inhoud en assessering van skoolgeskiedenis te ontwikkel.

Skoolbeheerliggame behoort dan die bevoegdheid te hê om te besluit watter leerplan die beste by hul skole en gemeenskappe pas.

Alternatiewe geskiedenisleerplanne behoort die volgende temas te dek:

  •  Antieke en klassieke beskawings (ongeveer 4000 v.C. tot 500 n.C.);
  •  Voor moderne samelewings (ongeveer 500 v.C. tot 1600 n.C.);
  •  Moderne samelewings (ongeveer 1600 tot 1950);
  • Eietydse samelewings (1950 tot vandag);
  • Die geskiedenis van spesifieke gemeenskappe; en
  •  Die geskiedenis van ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

“Leerders moet nie net die wêreld verstaan nie, maar ook hul eie plek daarin. ’n Gebalanseerde geskiedenisleerplan kan hul horison verbreed terwyl dit hulle steeds in voeling hou met hul kulturele wortels en erfenis,” sê Boshoff.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.